Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die Franse afrigter, Fabien Galthie, het die Springbokke as een van die beste spanne ter wêreld geloof voor vanaand se Nasieskampioenskapstoets in Parys. Hy sê die viermalige wêreldkampioen is klinies in elke aspek van die spel, wat teenstanders baie min ruimte of tyd laat om aan te val. Galthie sê Suid-Afrika se fisieke benadering beïnvloed ook die taktiese en tegniese aspekte van ‘n wedstryd. Die wedstryd op die Stade de France begin vanaand tien-oor-tien Suid-Afrikaanse tyd.
Intussen gaan die ervare losskakel Beauden Barrett die All Blacks môre die eerste keer aanvoer in die wedstryd teen Wallis in Cardiff. Barrett, wat in sy 149ste toets gaan speel, neem oor by Codie Taylor, wat ‘n blaaskans kry. Die losvoorspeler Anton Segner en die vleuel Fehi Fineanganofo is albei die eerste keer in die opdrafspan, terwyl die losskakel Richie Mo’unga en die slot Josh Lord terugkeer. Afrigter Dave Rennie sê Barrett verdien die geleentheid:
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê hulle sal Bangladesj nie onderskat in die tuisreeks van twee toetse nie, al is Suid-Afrika tans tweede op die Wêreldtoetskampioenskaps-punteleer en die Asiatiese land vyfde. Die Proteas het hulle posisie verbeter met die onlangse reeksoorwinning oor Australië, maar Bangladesj het Australië, Nieu-Seeland, die Windies en Pakistan die afgelope jare verslaan. Die reeks word gevolg deur drie eendagwedstryde en drie T20’s. Die eerste toets begin Sondag op die Wanderers en die tweede die 23ste in Centurion.
Nog krieketnuus: Australië se toetskaptein, Pat Cummins, ontken sy gewese spanmaat Usman Khawaja se bewerings oor bal-peutery tydens hulle toer in Suid-Afrika in 2018. Khawaja skryf in sy outobiografie, Sabr, die hele span het geweet van die plan om die bal met skuurpapier te skuur tydens die derde toets in Kaapstad. Slegs kaptein Steve Smith, onderkaptein David Warner en die bouler Cameron Bancroft is gestraf. Cummins het in Sydney ‘n nuuskonferensie toegespreek:
# En tennis: Die wêreld-nommer-vyf, Jessica Pegula, het deurgedring na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Indian Wells, Amerika. Die Amerikaner het ’n wedstrydpunt afgeweer voor sy die Tsjeg Linda Nosková in drie stelle kon verslaan, en het daarmee haar landgenoot Coco Gauff uitgeskakel. Nosková en Pegula is onderskeidelik eerste en tweede in Groep Een. Pegula speel in die voorlaaste ronde teen die Rus Mirra Andreeva, en Nosková teen die wenner van die laaste rondomtalie-wedstryd tussen Elina Svitolina van Oekraïne en Aryna Sabalenka van Belarus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….