Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Mei 2:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Springbok Sewes se hoofafrigter, Philip Snyman, sê hy is optimisties oor ‘n top-vier-uitslag in die Singapoerse sewestoernooi dié naweek. Die Blitsbokke pak Spanje, Samoa en Frankryk in hul groep. Snyman sê om ervare Blitsbokke soos Siviwe Soyizwapi, Dylan Sage en Rosko Specman terug te hê, is ‘n groot hupstoot vir die span:
# Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Pholetsi Moseki, sê hulle sukkel om ‘n oplossing te vind vir die gebrek aan swart kolwers. Hy sê dit raak die hervormingsbalans van die mans se nasionale span wat volgende maand aan die T20-Wêreldbekertoernooi in Amerika en die Wes-Indies gaan deelneem. Afrigter Rob Walter se 15-manspan wat Dinsdag bekend gemaak is, het geen swart kolwers nie en net ses gekleurde spelers. Dis die minste in ʼn IKR-toernooi sedert die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië in 2016.
# Motorsport: Suid-Afrika se voorste motorbestuur- en motorsport-leefstylervaring, die 14de Simola Hillclimb, begin vandag in Knysna in die Suid-Kaap. Ondersteuners sal vanmiddag ʼn wye verskeidenheid klassieke motors in Hedge-straat kan sien. Van môre af is Simola-heuwel vol opwinding wanneer deelnemers aan die Vrydag-klassieke-motorkompetisie begin opwarm, gevolg deur kwalifiserende rondes. Dit sal uitloop op Sondag se klas-eindronde en die opwindende toptien alles-of-niks-wedren om te bepaal wie tot 2024 se Klassieke Koning gekroon word.
Nog nuus oor die sport is dat Red Bull bevestig het sy hoofontwerper, die 65-jarige Adrian Newey, verlaat die Formule Een-span vroeg volgende jaar. Hy het in 2006 by die span aangesluit en die ontwerp van motors gelei wat die span in 20 seisoene al 13 hul wêreldtitels besorg het. Red Bull se spanleier en uitvoerende hoof, Christian Horner, het Newey se invloed op die span geloof en hom as ʼn ware legende beskryf. Volgens berigte het Ferrari en Aston Martin Newey genader.
# En, gholf: Die 15-malige Major-kampioen, Tiger Woods, sê hy is gereed om later die maand aan die PGA-kampioenskap by die Valhalla-gholfklub in Louisville, Kentucky, deel te neem. Die 48-jarige speler het steeds fisiese beperkings ná sy motorbotsing in 2021. Hy het verlede maand die Meesters voltooi en dit was die vierde keer dat hy al vier rondes van ʼn mededingende toernooi kon voltooi sedert hy sy Meesters-titel in November 2020 verdedig het. Woods sê hy hoop steeds om die res van die jaar elke maand aan ʼn toernooi deel te neem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….