Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 April 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met krieket: Hoofafrigter, Rob Walter, het 15 spelers in die Proteas-groep ingesluit vir die Wêreldbeker wat in Junie in die Wes-Indiese Eilande en Amerika plaasvind. Aiden Markram sal die groep aanvoer wat twee nuwelinge in die T20-formaat insluit – kolwer Ryan Rickelton en snelbouler, Ottniel Baartman. Die Proteas sal die voordeel hê van ervare kolwers soos Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen en David Miller. Kagiso Rabada en Anrich Nortjé sal die snelaanval lei en daar is ook drie voorslag draaiers in die span − Bjorn Fortuin, Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi.
# Vervolgens, rugby: Frankryk, Engeland en Ierland is volgens berigte gekant teen Wêreldrugby en Sanzaar se planne om amptelik ‘n rooi kaart van 20 minute in toetsrugby in te stel. SA Rugby ondersteun die voorstel. Dit word sedert 2020 in Super Rugby gebruik, waar ʼn span toegelaat word om ʼn speler met ʼn rooi kaart teen hom na 20 minute te vervang. Vyf-en-sewentig-persent van die raad sal ten gunste daarvan moet stem voordat Sanzaar die reël kan instel. Dit sal deel wees van vanjaar se Rugbykampioenskap.
# Padwedlope: Organiseerders van die Londen Marathon het 840-duisend-318 aansoeke vir die wedloop in 2025 ontvang. Dit verbeter die wêreldrekord van 578-duisend-374 wat in verlede jaar se openbare loting opgestel is. Meer as 53-duisend atlete het verlede week die 44ste uitgawe van die marathon voltooi. Die Olimpiese kampioen, Peres Jepchirchir, het ‘n wêreldrekord vir vroue opgestel. Daar was ‘n geraamde 17-duisend lotingsplekke beskikbaar vir vanjaar se wedloop. Die 2025 Londen Marathon is geskeduleer vir 27 April.
# Nou tyd vir sokker: Amerika en Mexiko het hulle gesamentlike bod om die Vroue-wêreldbeker in 2027 aan te bied, teruggetrek en sal eerder op die 2031-toernooi fokus. Brasilië en ʼn gesamentlike bod deur België, Duitsland en Nederland is die enigste opsies wat oorbly. Amerika se sokkerpresident, Cindy Parlow Cone, sê dis ʼn groot onderneming om ʼn Wêreldbeker aan te bied en meer tyd om voor te berei, laat hulle toe om die uitwerking wêreldwyd te vergroot. Die Fifa-kongres sal volgende maand die gashere aanwys.
# En, ons sluit af met boks: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het hulde gebring aan Suid-Afrika se bokslegende, Dingaan Thobela, en sê hy het die nasie en toekomstige boksers besiel. Hy is op 57 jaar by sy huis in Johannesburg dood. Die Roos van Soweto se boksloopbaan het 16 jaar geduur en hy het drie wêreldtitels in twee gewigsafdelings gebuit. Kodwa se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Thobela het deur sy boks-sukses baie bygedra tot Suid-Afrikaanse sport:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….