Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê hulle moet verbeter voor volgende naweek se kragmetings met Frankryk en Ierland, al het hulle Italië 66-7 verneder in die eerste ronde van die Nasieskampioenskap se noordelike reeks. Suid-Afrika was rustyd 45-0 voor na ses drieë, maar het in die tweede helfte rustiger gespeel. Erasmus sê dit was nie perfek nie, maar is tevrede met die dissipline nadat hulle min strafskoppe afgestaan en geen kaarte ontvang het nie:
# Gholf: Die tweemalige major-kampioen, Bryson DeChambeau, is tjoepstil oor sy toekomsplanne nadat hy LIV Gholf verlaat het, maar is nie jammer hy het in 2022 by die wegbreekliga aangesluit nie. LIV het verlede week sy sluiting aangekondig nadat hy nie finansiële steun kon bekom nie. Die Amerikaner was waarskynlik die bekendste speler om na die winsgewende liga oor te loop. Hy sê dit was wonderlik om te speel voor skares wat selde die beste spelers tuis kan ondersteun, en glo LIV kon meer mense bereik.
# Krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore Australiese kolwer Marnus Labuschagne is uitgelaat vir die reeks van vier toetse teen Nieu-Seeland. Die 32-jarige sukkel tans en kon net ‘n gemiddeld van 23.66 lopies aanteken in tien toetse sedert sy teruggekeer na verlede seisoen se reeks om die As. Hy kon in 19 kolfbeurte net twee vyftigtalle behaal en het in 2023 teen Engeland laas honderd gekry. Labuschagne kon in die eerste twee toetse teen Suid-Afrika nie by 40 uitkom nie en is in die laaste toets uitgehaal vir ‘n nulletjie en vier.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, beskou homself nie as gunsteling in die ATP-eindtoernooi wat Sondag in Turyn, Italië, begin nie. Die Spanjaard het oënskynlik sy beste spelpeil herwin toe hy gister die Amerikaner Ben Shelton verslaan het in die eindstryd van die Paryse Meesterstoernooi nadat hy vier maande van die seisoen misgeloop het met ‘n gewrigsbesering. Alcaraz sê enigiets kan gebeur in Turyn, waar die wêreld se beste agt spelers meeding:
En laastens, nog tennisnuus, Coco Gauff van Amerika het haar landgenoot Jessica Pegula in drie stelle geklop om haar WTA-eindtoernooi-veldtog in Indian Wells op ‘n wennoot af te skop. Gauff, die wêreld-nommer-vier, het in twee uur-39-minute gewen. Pegula het van 5-1 in die tweede stel teruggeveg en ‘n wedstrydpunt afgeweer voor sy die valbylpot gewen het. Gauff het egter die beslissende stel oorheers om die kragmeting te beklink. Die kampioen van 2024 sê sy is in haar skik met haar vertoning in haar eerste wedstryd in meer as ‘n maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….