Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die tweemalige Wêreldbeker-wenner, Steven Kitshoff, gaan dalk nie betyds herstel vir die Springbokke se toetsreeks teen die Sesnasiekampioen, Ierland, in Julie nie. Hy het ‘n kniebesering opgedoen tydens Ulster se Uitdaagbeker-kwarteindstryd teen Clermont, en gaan die res van die Verenigde Rugbykampioenskap misloop. Die 32-jarige stut het na Suid-Afrika teruggekeer om ‘n knie-spesialis te raadpleeg. Kitshoff sluit hom volgende seisoen weer by die Stormers aan.
Intussen word daar gegis dat die vleuel Cheslin Kolbe die Springbokke se nommer tien-trui kan dra wanneer die wêreldkampioen op 22 Junie op Twickenham teen Wallis speel. Die wedstryd val buite die amptelike toetsvenster, wat beteken spelers in Brittanje, Ierland en Frankryk sal nie beskikbaar wees nie. Dit sal die losskakels Handré Pollard en Manie Libbok uit die span hou. Kolbe was die steun-skrumskakel in die Wêreldbeker-eindstryd teen die All Blacks, en hy en nommer nege, Faf de Klerk, het albei ondervinding op losskakel.
En, nóg rugbynuus: Die spel toets op die oomblik ‘n breinafkoelings-behandeling vir harsingskudding wat met sport verband hou. Dit is die eerste akute behandeling wat langs die veld gedoen kan word. Ses klubs in die Verenigde Rugby Kampioenskap, wat Edinburgh insluit, gebruik tans die sogenaamde PolarCap. Dit koel die kop en nek af binne 45 minute tot ‘n uur nadat die speler harsingskudding opgedoen het. BBC Sport berig Edinburgh se spandokter, Michael Dunlop, sê die metaboliese wanfunksie wat deur harsingskudding veroorsaak word is erger teen ‘n hoër liggaamstemperatuur.
# Tennis: Die Spanjaard Carlos Alcaraz maak reg om in sy eerste kleinbaantoernooi van die seisoen in sy land se hoofstad te speel. Die Madridse Ope begin vandag met ‘n loslootjie vir die wêreld nommer drie en hy speel Vrydag sy eerste wedstryd. Alcaraz, wat die toernooi die afgelope twee jaar gewen het, het Monte Carlo en Barcelona weens ‘n besering misgeloop. Hy hou duim vas vir ‘n eindstryd teen sy beroemde landgenoot, Rafael Nadal, wat ook sukkel om heeltemal fiks te wees.
# En, laastens: Die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie gaan môre ‘n eredoktorsgraad aan die afrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, toeken. Sy is die suksesvolste afrigter in die geskiedenis van Suid-Afrika se vroue-sokkerspan en het die span in 2022 tot hulle eerste titel op die Vroue Afrikabekertoerooi gelei. Onder haar leierskap het die die span ook vir agtereenvolgende Vroue-Wêreldbekertoernooie gekwalifiseer. Die universiteit sê Ellis kry erkenning vir haar aansienlike prestasies wat haar in die boonste groep van sportlui in Afrika en die wêreld plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….