Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Ierland sal probeer munt slaan uit sy agtereenvolgende Sesnasies-krone wanneer hulle in November teen Nieu-Seeland, Argentinië, Fidji en Australië te staan kom in hulle Herfs-nasiesreeks. Die aanvangswedstryd in Dublin is teen die All Blacks, wat die Iere verlede jaar in die Wêreldbekertoernooi se kwarteindronde uitgeskakel het. Die reeks is Andy Farrell se laaste as Ierland se hoofafrigter voor hy in 2025 toesig hou oor die Britse en Ierse Leeus se toer na Australië. Hy beloof dit gaan ‘n onvergeetlike reeks wees.
# Netbal: Die pas aangestelde Protea-afrigter, Jenny van Dyk, het haar eerste groep ná ʼn streng keuringsproses aangewys. Nege lede van die groep van 15 was verlede jaar deel van Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog. Dit sluit die ervare Karla Pretorius, Ine-Mari Venter en Khanyisa Chawane in. Van Dyk sê die groep weerspieël ʼn harmonieuse mengsel van ervare spelers en opkomende talent en bestaan uit sewe plaaslike en agt oorsee-gebaseerde spelers. Van Dyk se eerste wedstryd is in Augustus teen Malawi.
# Padwedlope: Suid-Afrika se goue vrou van langafstande, Gerda Steyn, sal moet uithaal as sy indruk wil maak in die Olimpiese marathon in Parys. Dit volg nadat die verdedigende kampioen, Peres Jepshirchir, Sondag ‘n nuwe wêreldrekord opgestel het in die Londense Marathon. Die Keniaan het klaargemaak in twee-uur-16-minute-16-sekondes, ‘n verbetering van 45-sekondes op die vorige rekord van 2017. Steyn se beste tyd oor die 42-kilometer wedloop is twee-uur-24-minute-drie-sekondes.
# Tennis: Die Spaanse veteraan Rafael Nadal het sy deelname vir Span Europa bevestig aan hierdie jaar se Laverbekerkompetisie. Dit word in September in Berlyn, Duitsland, gehou en sal na verwagting sy laaste toernooi wees voor hy uittree. Span Europa se kaptein, Björn Borg, beskryf Nadal as ‘n absolute legende van die sport en ‘n ware kampioen in elke sin van die woord. Dit sal Borg se laaste jaar as kaptein wees, met die voormalige Switserse meester Roger Federer wat genoem word as ‘n moontlike opvolgter.
# En, nuus van die Laureus-toekennings: Novak Djokovic van Serwië, Simone Biles van Amerika en Jude Bellingham van Engeland is van die sportlui wat toekennings in Madrid, Spanje, ontvang het. Djokovic, wat al 24 Grand Slam-toernooie in tennis gewen het, is vir ‘n rekordgetal vyfde keer as Sportman van die Jaar aangewys en die Spaanse sokkerspeler Aitana Bonmatí as Sportvrou van die Jaar. Biles het die toekenning ontvang vir Terugkerende Atleet van die Jaar. Bellingham van Real Madrid, het die Deurbraak van die Jaar-toekenning ontvang en Spanje se vroue-sokkerspan is die Wêreldspan van die Jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….