Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Kaptein Temba Bavuma, wat die Proteas na hul eerste Wêreld-toetskampioenskapstitel gelei het, is vir drie Krieket Suid-Afrika-toekennings benoem. Hy is saam met Kagiso Rabada, Marco Jansen, Ryan Rickelton en Keshav Maharaj benoem as Manspeler van die Jaar. Bavuma is ook benoem as Toetsspeler van die Jaar en Ondersteuners se speler van die Jaar. Annerie Dercksen, Marizanne Kapp, Nonkululeko Mlaba en Laura Wolvaardt ding mee om die titel van Vrouespeler van die Jaar. Die toekenningsgeleentheid vind op 31 Julie by Emperors Palace in Gauteng plaas.
# Rugby: Willie le Roux word Saterdag die agtste Springbok met 100 toetse op sy kerfstok wanneer hulle Italië pak in die tweede toets in Gqeberha. Die span word aangevoer deur Salmaan Moerat terwyl Siya Kolisi nog van ‘n besering herstel. Jasper Wiese se broer, Cobus, Asenathi Ntlabakanye en Ethan Hooker kan hulle buiging van die bank maak, en Manie Libbok en Grant Williams is die nuwe skakelpaar. Afrigter Rassie Erasmus sê Le Roux is ‘n wonderlike spelskepper en hy is verheug dat hy die ongelooflike prestasie behaal.
Die Junior Springbokke speel intussen vanmiddag teen Skotland in die derde ronde van Wêreldrugby se Onder-20-kampioenskap in Italië. Die Bababokke het die jong Wallabies 73-17 verniel in die eerste ronde en dit opgevolg met ‘n oorwinning met 32-20 oor England. Vandag se ander kragmetings is tussen Wallis en Spanje; Engeland en Australië; die jong All Blacks en Ierland; Frankryk en Argentinië; en die gasheer, Italië, en Georgië. Die uitspeelwedstryde begin Maandag.
# Sokker: Chelsea is deur na die eindstryd van die Klub-Wêreldbekertoernooi toe hy Fluminense in New Jersey 2-0 verslaan het. Die 23-jarige Brasiliaan, Joao Pedro, wat verlede week van Brighton by The Blues aangesluit het, het in die 18de minuut ‘n skitterende doel aangeteken en nog een vroeg in die tweede helfte om die oorwinning te beklink. Chelsea kom Sondag in die eindstryd te staan teen Real Madrid of Paris Saint-Germain. Afrigter Enzo Maresca sê dis spesiaal om die eindstryd te haal:
# En tennis: Die tweede-gekeurde Carlos Alcaraz is steeds op dreef vir ʼn derde agtereenvolgende Wimbledon-titel nadat hy die Brit, Cameron Norrie, in die kwarteindronde verslaan het. Die Spanjaard speel in die halfeindronde teen Taylor Fritz van Amerika wat met die Rus Karen Khachanov afgereken het. In die vroueafdeling moes die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, hard veg om die Duitser Laura Siegemund te verslaan om die halfeindronde te haal. Amanda Anisimova van Amerika het die Rus, Anastasia Pavlyuchenkova, geklop om haar eerste Grand Slam-halfeindronde in ses jaar te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….