Sportnuus 12:20
BULLETIN SPORTNUUS 13 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die tweemalige Wêreldbekerwenner Faf de Klerk keer terug na Suid-Afrika om vir twee jaar by die Cheetahs aan te sluit. Die 34-jarige Springbok-skrumskakel sal in Junie in Bloemfontein aankom vanaf Yokohama Canon Eagles in Japan. Die Cheetahs sê De Klerk se vasberadenheid en leierskap is presies wat die span nodig het terwyl hulle steeds op die hoogste vlak meeding. De Klerk het sy Japannese klub bedank en gesê hy vertrek met niks anders nie as respek en waardering vir almal wat by die Eagles betrokke is.
Nog rugbynuus: Twee Springbok-vrouesewesspelers, Zintle Mpupha en Eloise Webb, is na die groep teruggeroep vir die eerste Sewes-wêreldkampioenskaptoernooi, wat hierdie naweek in Hongkong gespeel word. Mpupha het in Januarie vir die nasionale groep uitgedraf, terwyl Webb die span laas in 2024 verteenwoordig het. Die afrigter, Cecil Afrika, het ook die nuwelinge Jané Mulder en Owami Mohuli by die groep ingesluit. Mpupha sê die senior spelers is gereed om nog ‘n tree vorentoe te gee:
# Gholf: Rory McIlroy van Noord-Ierland het slegs die vierde speler geword wat die Amerikaanse Meesterstoernooi op Augusta twee keer na mekaar kon wen. Die 36-jarige het halfpad ‘n geskiedkundige voorsprong van ses houe gehad, maar was in die laaste ronde twee houe agter. Hy het egter op die laaste dag 71 geslaan om op 12 onder te eindig, een hou voor die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika. McIlroy sê dis ongelooflik wat hy vermag het:
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner het die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, geklop en sy eerste Monte-Carlo-meesters-titel gebuit. Hy is nou weer die wêreld-nommer-een. Dit is Sinner se derde Meesters-een-duisend-titel vanjaar na sy oorwinnings in Indian Wells en Miami. Hy het sy wenlopie in die Meesters-reeks tot 22 wedstryde uitgebrei. Sinner, wat die voorste ranglysposisie by Alcaraz afgeneem het, sê dit beteken vir hom baie om die titel te wen:
# En krieket: Rajasthan Royals en Punjab Kings is nou die enigste onoorwonne spanne in vanjaar se Indiese Premierliga. Rajasthan het al vier sy wedstryde tot dusver gewen, terwyl Punjab drie gewen het, terwyl een uitgereën het. Hulle word gevolg deur die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, wat een wedstryd verloor het. Delhi Capitals is vierde, gevolg deur Gujarat Titans, Lucknow Super Giants, Sunrisers Hyderabad, Mumbai Indians, Chennai Super Kings en Kolkata Knight Riders, wat nog nie ‘n wedstryd kon wen nie. Hyderabad is vandag gasheer vir Rajasthan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….