Sportnuus 12:00
BULLETIN SPORTNUUS 28 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerste aan die beurt is nuus vanaf die Statebondspele: Suid-Afrika het nog twee medaljes in die swembad gebuit en sy medalje-oes staan nou op elf. Michael Houlie het silwer gewen in 26,77-sekondes in die mans se 50-meter-borsslag, waarin die Australiër Sam Williamson goud verower het en Adam Ramsay-Peaty van Engeland brons. Erin Gallagher, wat aan haar laaste Spele deelneem, het brons verower in 57,39-sekondes in die vroue se 100 meter-vlinderslag. In die rolstoel-basketbal het Suid-Afrika se mans Maleisië 13-10 verslaan. Hulle sal vir die halfeindronde kwalifiseer indien Skotland in die laaste groepswedstryd met Wallis afreken.
# Rugby: Die Stormers-stut Ntuthuko Mchunu het by die Springbok-kamp in Johannesburg aangesluit, blykbaar weens kommer oor die fiksheid van die ervare nommer een, Ox Nché. Mchunu het vroeër die maand sy vierde toets vir Suid-Afrika gespeel in die Nasieskampioenskapswedstryd teen Skotland. Hy is aanvanklik aan die Stormers vrygestel vir volgende Vrydag se toerwedstryd teen die All Blacks. Die nasionale span berei voor vir volgende naweek se eenmalige toets teen Argentinië in Buenos Aires en die reeks teen Nieu-Seeland.
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Banyana Banyana, het 2-1 teen Tanzanië verloor in hul Groep B-openingswedstryd van die Afrikabekertoernooi vir vroue in Casablanca, Marokko. Diana Msewa het Tanzanië laat voorloop voor Bambanani Mbane die telling gelyk gemaak het aan die einde van die eerste helfte. Hasnath Ubamba het die wendoel aangeteken. Banyana Banyana ondervind nou ‘n opdraande stryd om die uitklopronde te haal, met Ivoorkus en Burkina Faso ook in die groep. Die vier spanne in die halfeindronde kwalifiseer outomaties vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Brasilië.
Nog sokkernuus: Orlando Pirates het die Premierliga se Spelertoekennings oorheers na ‘n geskiedkundige driekuns in die 2025/26-seisoen met oorwinnings in die Premierliga, die MTN8-beker en die Carling-uitklopbeker. Relebohile Mofokeng van Pirates is aangewys as speler van die seisoen, die spelers se speler, asook jong speler van die seisoen. Die Buccaneers het al die groot individuele kategorieë gewen, met Abdeslam Ouaddou as afrigter en Lebone Seema as verdediger. Mamelodi Sundowns se middelveldspeler, Jayden Adams, wat vroeër die maand dood is, het postuum die voorsitterstoekenning ontvang.
# En tennis: Die vroue-wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, en die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, gaan saamspan in die Amerikaanse Ope se gemengde dubbelspel wat op 25 Augustus in New York begin. Verlede jaar se naaswenners, Iga Swiatek en Casper Ruud, het ook ingeskryf, saam met Elena Rybakina en Taylor Fritz, en die Japannese Naomi Osaka en Kei Nishikori. Die ses spanne met die beste gekombineerde enkelspelranglys-posisies sal outomaties vir die hooftrekking ingeskryf word. Agt spanne sal as promotorskeuses deelneem, terwyl die laaste twee plekke deur kwalifisering bepaal sal word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….