Sportnuus 12:00
BULLETIN SPORTNUUS 11 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het Suid-Afrikaners verseker die span gaan alles in die stryd werp in vanaand se Wêreldbeker-openingswedstryd teen die mede-gasheer, Mexiko, in die Azteca-stadion in Mexikostad. Dis ‘n herhaling van 2010 se toernooi toe die twee lande in Johannesburg 1-elk gelykop gespeel het. Broos sê die wedstryd sal moeilik wees, veral omdat dit voor 85-duisend gillende en singende Mexikane gespeel word:
Die regering het Suid-Afrikaners intussen gevra om agter Bafana Bafana te staan. Amptenare sê die span verteenwoordig die vasberadenheid, dissipline en veggees van die nasie. Suid-Afrikaners word aangemoedig om groen en goud op “Bafana Vrydae” te dra as ‘n teken van hul ondersteuning. Die regering sê sokker en Bafana se mededinging op die wêreldverhoog het die vermoë om die land te verenig en nasionale trots aan te wakker.
# Padwedlope: Kaapstad is ingesluit in die Wêreldmarathonreeks – die eerste wedloop in Afrika wat erkenning kry en die agste wêreldwyd. Vanjaar se geleentheid op 24 Mei was die laaste beoordelings-fase. Die Moederstad sluit aan by Tokio in Japan, Boston, Chicago en New York in Amerika, die Britse hoofstad, Londen, Sydney in Australië en die Duitse hoofstad, Berlyn. Die reeks se uitvoerende hoof, Dawna Stone, sê Kaapstad se unieke kultuur, verwelkomende inwoners en wonderlike natuurskoon bied ‘n heel nuwe ervaring.
# Rugby: Die slot Salmaan Moerat se toekoms as toetsspeler is onseker nadat hy hom weens ‘n besering moes onttrek aan die Springbokke se oefenkamp in Johannesburg. Hy is vervang deur sy Stormers-spanmaat Ruben van Heerden, wat tydens die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen uitgeblink het. Die groep berei voor vir die eerste toets van die seisoen volgende Saterdag in Gqeberha teen die Barbarians. Op dieselfde dag sal Suid-Afrika A teen Zimbabwe op dieselfde veld te staan kom. Bok-afrigter Rassie Erasmus sal volgende week sy span vir die toets aankondig.
# En krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, en die snelbouler Gus Atkinson is uitgelaat uit die span vir die tweede toets teen Nieu-Seeland. Hulle word ondersoek vir die verbreking van span-protokolle. Hulle het die span se middernag-klokreël verbreek toe hulle Maandag in die vroeë oggendure in ‘n nagklub in ʼn onderonsie met ʼn rugbyspeler van Saracens betrokke was. Die snelbouler Jofra Archer en die kolwer Jordan Cox is in die span ingesluit. Joe Root sal as kaptein waarneem in die toets wat Woensdag op die Oval in Londen begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….