Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: Die Stad Kaapstad sê hy is gereed om môre die SA20-eindstryd op Nuweland aan te bied. Die verdedigende kampioen, die Sunrisers Eastern Cape, sal Durban’s Super Giants die stryd aansê. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die eindstryd voor ongeveer 17-duisend toeskouers sal die toernooi van 34 wedstryde afsluit, met ondersteuners wat wêreldklas krieket in ses stadions landwyd kon sien:
# Motorsport: Die Britse Grand Prix by Silverstone sal tot 2034 op die Formule Een-program bly. Die nuwe tien-jaar-ooreenkoms beteken die Northamptonshire-baan is in sy negende dekade nadat die heel eerste Formule Een Grand Prix in 1950 daar aangebied is. Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het reeds ‘n rekordgetal van agt Grand Prix-oorwinnings op Silverstone behaal. Die Formule Een-president, Stefano Domenicali, sê Silverstone is ‘n ikoniese renbaan waarheen geesdriftiges van regoor die wêreld stroom vir uitstekende wedrenne en ‘n unieke toeskouerservaring op die pawiljoene.
# Rugby: Frankryk se hoofafrigter, Fabien Galthie, het net twee veranderings aan sy span aangebring wat teen Ierland verloor het in die eerste ronde van vanjaar se Sesnasies-reeks. Frankryk pak Skotland môre op Murrayfield in Edinburgh. Louis Bielle-Biarrey sal in die nommer 11-trui begin met Yoram Moefana wat bank toe skuif, terwyl Cameron Woki vir Paul Willemse op slot vervang. Die Suid-Afrikaans-gebore Willemse sal twee wedstryde misloop nadat hy ‘n rooikaart gekry het vir ‘n hoogvat op die Ierse stut Andrew Porter.
# Olimpiese Spele: Die medaljes wat op vanjaar se Spele in Parys toegeken word, sal ‘n stukkie van die Eiffeltoring bevat. Die organiseerders het die medaljes onthul, wat ‘n seshoekige stukkie yster bevat wat soos ‘n edelsteen in die middel van die medaljes geplaas is. Die metaal is verkry van ‘n pakhuis waarin die bedryfsmaatskappy wat die toring in stand hou, afvalstukke van die staal berg. Die medaljes is ontwerp deur die hoog-aangeskrewe plaaslike juweliersmaatskappy Chaumet. Altesaam vyf-duisend-84 goue, silwer en brons medaljes sal toegeken word tydens die Spele, wat van 26 Julie tot 11 Augustus plaasvind.
# Amerikaanse voetbal: Die R&B-sanger Usher sê sy Super Bowl-rustydvertoning Sondag in Las Vegas gaan ʼn hoogtepunt en nuwe begin van sy loopbaan van 30 jaar wees. Hy gaan die eerste onafhanklike kunstenaar ooit op die verhoog wees nadat hy sy vorige platemaatskappy, RCA, verlaat het om self sy album, Coming Home, vry te stel. Usher het aan Apple Music gesê hy gaan baie dinge, soos ʼn skaats-item, by sy vertoning insluit: