Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Kyk vandag na die week wat vir Johannesburg voorlê om finale voorbereidings te tref in aanloop tot die G20-leiersberaad die komende naweek.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig twee mans van onderskeidelik 29- en 58-jaar oud is gisteroggend in afsonderlike voorvalle dood tydens die Isuzu Ironman 70.3-kompetisie in Mosselbaai. Die mans het aan die swemitem deelgeneem en een was reeds dood toe hy uit die water gehaal is, terwyl die ander later oorlede is.
Dan skryf die webblad groot dele van die Vrystaat is oorstroom nadat tot 90 mm reën oor sekere dele uigesak het. Verskeie ongelukke is ook op die N3-snelweg in die Noord-Vrystaat aangeteken.
En laastens word berig hulde stroom in na die afsterwe die naweek van die struggle-ikoon, ambassadeur en onderwysleier, doktor Franklin Sonn.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Nkabinde-ondersoek na die geskorste direkteur van openbare vervolging, Johannesburgse advokaat Andrew Chauke, sal vandag in Pretoria begin, met die nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, as die eerste getuie.
En tweedens word berig die Suid-Afrikaanse regering is oënskynlik nie veel gepla met Amerika se afwesigheid by die G20-beraad nie.
# Sowetan:
Berig die Spesiale Ondersoekeenheid sê die ondersoek na die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, se beweerde bedrieglike registrasie vir ‘n meestersgraad by Fort Hare is in ‘n gevorderde stadium.
# En The Citizen:
Skryf Suid-Afrika se eerste kredietopgradering in twee dekades is goeie nuus, maar die S&P-graderingsagentskap waarsku indien die regeringshervormings nie voortduur nie sal hy die gradering hersien.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei soos Netwerk24 met die ysterman-sterftes in Mosselbaai.
En tweedens word berig oor die driejarige Khy-ree Jordaan van Elsiesrivier wat volgens familielede deur ‘n verkeersbeampte wat onder die invloed was, doodgery is. Die polisie stel ondersoek in.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe het haarself ‘n punt van vier uit vyf toegeken vir die vlak van dienslewering aan die gemeenskap.
En tweedens skryf die koerant ‘n groep word beskuldig dat hulle ‘n student aangerand het terwyl hulle na ‘n seksuele aanrandingsverdagte by die Nelson Mandela-universiteit gesoek het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf bendegevegte by skole is steeds besig om uit te brei. Die polisie sê daar is toenemd voorvalle en hulle arresteer skoolkinders wat by bendegeweld betrokke is.
En tweedens word berig KwaZulu-Natal is besig om sy optrede teen dronkbestuurders te verskerp.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n voorgestelde olieraffinadery van 30-miljard-rand buite Swakopmund laat vrae ontstaan oor grondgebruik, wateraanvraag en toekomstige pypleidingroetes.
En tweedens skryf die koerant ’n tiener van Walvisbaai wat sy rug in ’n ongeluk gebreek het, is byna ’n maand lank steeds sonder behoorlike mediese behandeling nadat die staatshospitaal glo versuim het om X-strale te neem of hom na Swakopmund oor te plaas.