Oggendkoerant-veslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 September 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika oefen druk uit op die VSA om die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika te hernu ten spyte van die hoë tariewe. President Cyril Ramaphosa het na sy toespraak by die VN gesê terwyl die land daarna streef om sy verhouding met die VSA te handhaaf, reik Pretoria uit na na Asië, Latyns-Amerika en die Golf, vir nuwe markte.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor Ramaphosa se toespraak by die VN waar hy klem gelê het op die regte en gesondheid van vroue, tieners en kinders wêreldwyd. Hy sê die Global Leaders Network het onderneem om aandag te skenk aan die mense se lot.
Tweedens skryf die webblad oor die 71-jarige Bakkies Buys wat Dinsdag by sy huis in Mooinooi ontvoer is. Hy is gister met behulp van die ondersoeker Mike Bolhuis in Randburg vrygelaat. Hy is ongedeerd.
En laastens word berig adjunkpresident Paul Mashatile het by die Erfenisdagviering in Oudtshoorn gesê elke Suid-Afrikaner moet sy of haar erfenis bewaar.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die stryd om Johannesburg se burgemeesterskap vererger, Dada Morero tree na vore as ‘n gedugte uitdager vir Helen Zille van die Demokratiese Alliansie. Die koerant berig Morero se aantrekkingskrag onder kiesers in townships, veral in Soweto, groei, aangevuur deur kritiek op die DA se prestasie in arm gebiede en toenemende frustrasie oor die party se stilswye oor Gaza.
# Sowetan:
Berig oor die vandalisme in begraafplase waar duur grafstene vernietig word. Die Johannesburg-metro versoek mense om liewer verassing te oorweeg en bestaande grafte te herbegrawe.
# En The Citizen:
Skryf die oproep van die EFF om die Kruger-wildtuin na die Skukuza Nasionale Park te verander het wydverspreide kritiek ontlok. Die party wil ook die plaaslike lughawe se naam verander na die DD Mabuza-lughawe.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die 39-jarige Janine Stander van Oudtshoorn wie se liggaam in ‘n kanaal gevind is nadat sy ‘n week vermis was. Stander is laas lewend gesien by ‘n plaaslike sportkroeg. Haar man Ryan het haar uitgeken. Die egpaar het drie kinders.
En tweedens is daar nuus oor die omstrede wegraping wat die evangelis Danie Botha voorspel het. Dit sou gister plaasgevind het. Botha sê enigiemand wat gister oorlede is, was deel van die wegraping.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die Buffalo City-metro kyk na die skade en koste nadat die staking opgeskort is.
En skryf die ontdekking van ‘n skaars saagvis of timmermanhaai wat by Birha-strand ontdek is, laat die hoop opvlam oor die oorlewing van die spesie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die inwoners van Panorama is bekommerd oor die luggehalte as gevolg van die stof van die nabygeleë steengroef.
En tweedens word berig die lugvaartskool in Pietermaritzburg het sy deure oopgemaak.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig vanjaar se gegradueerdes sê die vertraging in die plasing van leerlingdokters stel hul professionele toekoms in gevaar en plaas druk op ‘n gesondheidstelsel wat reeds steier.
En tweedens skryf die koerant meer as 100-duisend-hektaar is reeds in ‘n verwoestende veldbrand in die Etosha Nasionale Park verwoes.