Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande sê hy het nie ‘n ander keuse gehad as om die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente te ontbind nie. Die raad het sy versoek geïgnoreer om onbevoegde diensverskaffers te verwyder.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die VSA en Arabiese lande het ingegryp om ‘n vergeldingsaanval deur Israel te keer nadat Iran ‘n hommeltuig- en missielaanval van stapel gestuur het. Israel het die aanval suksesvol afgeweer.
Tweedens skryf die koerant oor die afgelope naweek se Twee Oseane-marathon in Kaapstad. Een van die Johannesburgse deelnemers, René Kalmer sê dit was ‘n “draffie om die berg”.
En laastens is daar ‘n berig oor die troosdiens vir Lizelle Stolz van Tzaneen wat vroeër in ‘n motorongeluk dood is.
# The Star en Pretoria News:
Lei met: “WHERE IS JOOSTE’S BODY?” Die koerant skryf oor die polisie se sluier van geheimhouding oor die geregtelike ondersoek na Markus Jooste van Steinhoff se selfdood.
En tweedens word berig die Johannesburgse metro gaan die stad se forensiese ondersoekafdeling ondersoek.
# Sowetan:
Berig ook oor Blade Nzimande se redes vir die ontbinding van die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente.
# En The Citizen:
Skryf die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela het ‘n beroep op kiesers gedoen om nie vir oudpresident Jacob Zuma en sy party te stem nie. Sy sê hy gaan net die Guptas se werk voortsit.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor ‘n plaasaanval buite Petrus Steyn. ‘n Boer in ‘n rolstoel, Laurie Potgieter, sy verpleegster, Gerda Oosthuizen en haar gestremde seun, Steven Fleming is oorval en beroof. Niemand is beseer nie.
En tweedens skryf die koerant oor die 51-jarige Danie Hendricks van Bloemfontein wat drie dae voor sy stiefseun se troue oorlede is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die Twee Oseane-marathon. Die koerant berig twee deelnemers is tydens en kort ná die marathon in onverwante voorvalle oorlede. Daar is ook nuus oor atlete wat ongelukkig is oor die afsnytye in die marathon.
En tweedens skryf die koerant die voormalige Springbok-afrigter, Peter de Villiers gaan appelleer teen sy skorsing uit die Good Party en die Wes-Kaapse Wetgewer.
# En Cape Times:
Skryf eerstens hoe spioene van die VSA glo Zuma en Ace Magashule geteiken het.
En berig ook oor Nzimande se redes.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die probleme by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente plaas druk op mense wat huisvesting aan studente verskaf aangesien hulle geen betaling ontvang nie.
En skryf tweedens ‘n berokingsmaatskappy van Gqeberha het in die hof ontken hy is verantwoordelik vir die dood van twee kleuters toe hy ‘n behuisingseenheid in Kabegapark berook het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die ANC het ‘n veldtog om Zulu-leiers te oortuig om vir die party te stem.
En berig daar bestaan vrese vir ‘n Midde-Oosterse oorlog.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die gemeenskap van Rehoboth rou nadat vier mans Saterdagaand in ‘n motorongeluk sowat nege kilometer buite die dorp omgekom het.
En tweedens is daar nuus oor ˊn groep vriende wat ‘n sloertoer met klassieke motors onderneem en geld skenk aan ouetehuise in die dorpe waar hulle aandoen.