Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf Sibanye-Stillwater het aangekondig dat hy bykomende herstrukturering by sommige van sy goudmyne gaan doen wat tot nog duisende afleggings kan lei. Die maatskappy sê sowat drie-duisend permanente poste en 915 kontrakteurs is in gevaar.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Berig oor die moontlikheid van ‘n regering van nasionale eenheid na die verkiesing.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die woordvoerder van die MK-party, Nhlamulo Ndhlela sê hulle gaan nie ná die verkiesing ‘n koalisie met die ANC vorm nie en Afrikaanse kiesers is welkom om vir dié party te stem.
En tweedens skryf die koerant oor Suid-Afrika se MMA-wêreldkampioen, Dricus du Plessis wat aan die Cowboy Cup-motorwedren in Lephalale, Limpopo deelgeneem het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf volgens ‘n verslag van die Parlement se etiese komitee sal alle senior parlementslede ná die verkiesing aan ‘n leefstyloudit blootgestel word.
En berig oudpresident Jacob Zuma het president Cyril Ramaphosa opnuut daarvan beskuldig dat hy die regstelsel manupileer ten opsigte van die Phala Phala-kwessie.
# Sowetan:
Berig, volgens die staat is skietvoorvalle by die Fort Hare Universiteit gebruik om vrees te skep en meer kontrakte vir sekerheidspersoneel te beding.
# En The Citizen:
Skryf onderwysers is die nuwe teiken van geweld. Onderwysvakbonde is bekommerd nadat twee onderwysers verlede week vermoor is.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig Stanley Bakili is in die Hooggeregshof daaraan skuldig bevind dat hy in 2018 die huurmoord op die besturende direkteur van die City Med-daghospitaal, Louis Siemens beplan het.
En tweedens skryf die koerant ‘n 19-jarige student aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Tato Molaodi is in sy woonplek in Willows aangeval en vermoor. ‘n Derdejaar-student is in dieselfde voorval gewond en sterk in die hospitaal aan.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei soos Beeld met die MK-party se liefdesverklaring aan Afrikaanse kiesers.
Dan skryf die koerant ‘n beeld van Madiba is in Nelson Mandelabaai gevandaliseer – moontlik deur skrootmetaaldiewe.
En laastens is daar nuus oor twee diewe wat vasgetrek is omdat hulle meer as twee-miljoen-rand se Lego-blokkies uit winkels in Auckland, Nieu-Seeland gesteel het.
# En Cape Times:
Skryf die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande het die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente met onmiddellike ingang ontbind.
En berig ook oor die lewenstyloudits vir LP’s.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n kragonderbreking wat die 57-jarige Kholeka Ntshiza van KwaNobuhle gedwing het om ‘n kers op te steek het tot ‘n brand gelei wat haar dood veroorsaak het.
En tweedens skryf die koerant die keuse van St George’s Park vir die Krieket-wêreldbeker in 2027 sal ‘n belangrike inspuiting vir dié stad se toerismebedryf wees.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n tekort aan die dwelmmiddel Whoonga in Pietermaritzburg het vrese laat onstaan dat verslaafdes hulle tot misdaad sal wend.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig vakbonde en werkgewers is bekommerd hul beheer oor die beroepsopleidingsfonds van die Namibiese Opleidingsowerheid word weggeneem.
En skryf tweedens ’n maatskappy in Walvisbaai bied sy duik-reddingsdienste gratis aan gemeenskappe wat nie toegang daartoe het nie.