Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste wat daarvan beskuldig word dat hy die meesterbrein agter Suid-Afrika se grootste bedrogsaak is, het selfdood gepleeg om te verhoed dat hy homself vir arrestasie oorgee. Die koerant skryf volgens bronne het hy homself geskiet.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die speaker van die Nasionale Vergadering Nosiviwe Mapisa-Nqakula het ondersoekers glo mislei oor haar doen en late. Voorts word berig president Cyril Ramaphosa is glo vroeër die maand reeds ingelig dat sy in hegtenis geneem gaan word in verband met korrupsieklagtes.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan die vermeende selfdood van Markus Jooste. Die koerant berig Jooste het glo gesê hy gaan ‘n entjie stap by sy huis naby Kwaaiwater in Hermanus en het homself toe geskiet. ‘n Ander stapper het op hom afgekom, maar hy is met sy aankoms by die Mediclinic in Hermanus dood verklaar.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor Markus Jooste en berig oor die spesiale verlof van Nosiviwe Mapisa-Nqakula te midde van korrupsiebewerings.
Dan berig die blad ook daar is beroepe dat die ondersoek na die SAL-transaksie vinnig afgehandel word.
# En Sowetan:
Lei met: “MARKUS JOOSTE – A CONMAN WHO GOT AWAY WITH IT”. Die koerant berig ook oor sy beweerde selfdood.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Jooste.
En tweedens skryf die koerant die 24-jarige Lerato Tseko Selepe is tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord op sewe mense op ‘n plaas in Kestell in 2022.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Staan ook sy hele voorblad af aan die Jooste-selfdood en lei met dieselfde hoofberig as Beeld.
# En Cape Times:
Skryf hoe die polisie op ‘n gewonde Markus Jooste afgekom het.
En berig die Parlement is steeds ongelukkig met NSFAS oor sy begroting.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig watermonsters wat in riviere in Nelson Mandelabaai geneem is, dui op verhoogde vlakke van E.coli. Altesaam 73-persent van die monsters oorskry die drempel van aanvaarde bakteriese besoedeling.
En tweedens skryf die koerant ‘n ondersoek by spaza-winkels in Nelson Mandelabaai dui daarop dat hulle blikkieskos wat verval het en verotte vleis en groente verkoop omdat hulle yskaste nie werk nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die verhouding tussen die ANC en die tradisionele Zoeloe-premier, Thulasizwe Buthelezi is baie gespanne.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig oor die sukses van Ruben Lambrechts se sosiale-mediaveldtog om geld vir droogtehulp in te samel. Al het die ministerie van Landbou gesê hy is ‘n kansvatter, het hy reeds 50-duisend-rand ingesamel.
En tweedens skryf die koerant die versekeraar, Momentum Namibia het homself gedistansieer van die beweerde bedrogskema wat gelei het tot ’n sekwestrasiebevel teen Michael Hough Bronkhorst. Sowat 103-miljoen-rand wat van kliënte verduister is, moet verhaal word.