Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Tesourie het sy kommer uitgespreek oor die 257 Suid-Afrikaanse munisipaliteite wat nie miljarde rand aan toegekende begrotings en voorwaardelike toelaes bestee het nie. Die Tesourie sê inwoners sukkel intussen met swak dienslewering.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die verhoor van die vermeende moordenaar van Magdaleen Prinsloo en haar dogter, Ruzanne Weideman wat in November by Prinsloo se huis in Kosmos by Hartbeespoortdam doodgeskiet is. Prinsloo se man, Paul het hulle na bewerig met ‘n jaggeweer geskiet.
En tweedens is daar nuus oor ’n pampoen met die naam Bella wat van 730,8 kilogram weeg. Die bielie het vanjaar koning gekraai op die 20ste Goliat van Gat-pampoenfees.
# The Star en Pretoria News:
Skryf FNB het al oudpresident Jacob Zuma se bankrekenings gesluit. Die bank sê hy distansiëer hom van Zuma weens die VBS-bankskandaal.
En berig die inwoners van hostels dring nou ook aan op munisipale dienste.
# Sowetan:
Berig dit het aan die lig gekom uit die bekentenis van een van die beskuldigdes in die Senzo Meyiwa-moordsaak, Bongani Ntanzi dat hy ‘n onervare meeloper was wat deur sy medebeskuldigdes gemanupileer is.
# En The Citizen:
Skryf twee ANC-veterane, Matthews Phosa en Geraldine Fraser-Moleketi, sê die ANC het die pad byster geraak en korrupsie het enige vordering wat gemaak is, ongedaan gemaak.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die 32-jarige Lourentia Lombaard wat vroeër in verband met die verdwyning van die sewejarige Joslin Smith in hegtenis geneem is, het glo ‘n bekentenis afgelê. Sy het gister die eerste keer in die hof verskyn.
Dan skryf die koerant die 47-jarige Coert Botha van De Aar is tot 66 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan 13 aanklagte van seksuele misdade teen minderjarige seuns.
En laastens is daar nuus oor die Bok-toets teen Portugal in Bloemfontein op 29 Julie. Die kaartjies sal van Vrydag te koop wees.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad.
Dan skryf die koerant die gemeenskap van Vanrhynsdorp is in rou gedompel nadat 11 inwoners waaronder drie kinders Sondag in ‘n vragmotorongeluk omgekom het.
En laastens is daar nuus oor die 15-jarige Chris Boshoff, ‘n graad 9-leerder van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, wat ernstig beseer is tydens ‘n bergfiets-uithourit.
# En Cape Times:
Skryf Wes-Kaapse tieners is die slagoffers van angs en depressie.
En berig tweedens, die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Mondli Gungubele wou homself nie uitlaat oor die getal afleggings wat by die Suid-Afrikaanse Poskantoor in die vooruitsig gestel word nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai is die moord-hoofstad van Suid-Afrika. Die stad is negende op ‘n wêreldwye ranglys en die afgelope week is daar 25 moorde gepleeg.
En tweedens skryf die koerant die apteek by die Korsten-kliniek kan skaars funksioneer maar is ‘n belangrike skakel in gemeenskapsgesondheid.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die munisipale werkersunie, SAMWU sê die skorsing van eThekwini se hoof van elektrisiteit, Maxwell Mthembu is onwettig. Hy het geweier om lede van sy eenheid wat aan die SAMWU-staking deelgeneem het, af te dank.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n sekwestrasiebevel is teen ’n bekende plaaslike geoktrooieerde rekenmeester verkry om sowat 103-miljoen-rand te verhaal wat na bewering verduister is.
Dan skryf die koerant die besluit van die Vervoerkommissie van Namibië om nie FlyNamibia se lugvervoerlisensie te hernu nie, is tersyde gestel en na die kommissie terugverwys.
En laastens word berig ’n boer van die Otjiwarongo-distrik het ernstige brandwonde opgedoen nadat ’n gasstoof op die plaas Gemsbok ontplof het.