Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Elon Musk se X Corp weier om deel te neem aan die Mededingingskommissie se openbare verhore oor die invloed van digitale kanale op onder meer tradisionele mediaplatforms se advertensie-inkomste.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Parlement verwag dat die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza moet verduidelik hoekom haar departement se vermorste uitgawes in een boekjaar duisendvoudig gestyg het.
Dan skryf die koerant oor ‘n samewerkingsooreenkoms wat Tshwane met AfriForum gesluit het om die stad op te knap.
En laastens word berig oor die moordsaak teen professor Peter Beale in die Hooggeregshof in Johannesburg. Mohammadh Sayed wie se seun na ‘n opreasie deur Beale dood is, het gister getuig.
# The Star en Pretoria News:
Skryf verskeie partye eis dat die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula ondersoek moet word. Dit staan in verband met bewerings dat sy omkoopgeld van altesaam 2,3-miljoen-rand van ‘n kontrakteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontvang het.
En tweedens word berig motoriste moet hulle vandag staal teen brandstofprysverhogings.
# Sowetan:
Berig volgens regskenners is die voorwaardes wat deur die vermeende moordenaars van AKA gestel word vir hul uitlewering deur Eswatini nie haalbaar nie.
# En The Citizen:
Skryf die Moloto-pad noord van Pretoria, wat berugtheid verwerf het as pad van die dood, word nou opgegradeer. Kenners vra egter wat die oorsake is van die talle ongelukke? Dronkbestuur en roekelose en nalatige bestuur kom in die meeste voorvalle voor.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig opnuut oor die grondbesetting wat langs die Jagersfonteinpad in Bloemfontein voorkom. Volgens die besetters het die ANC na bewering gesê hulle kan die grond kry, maar kenners bestempel dit as ‘n stemwerwingsaksie voor die verkiesing.
Dan skryf die koerant die voormalige Vrystaatse premier, Sisi Ntombela en haar man, Madala was die slagoffers van ‘n plaasaanval op hul plaas in Heilbron. Hulle is aangerand en beroof.
En laastens word berig die saak oor die Hoër Meisieskool Oranje se netbalafrigter is vir eers van die baan.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die dood van die tienjarige Elvito Dindal van die Paarl toe ‘n rots op ‘n bouterrein op hom geval het. Nog ‘n seun is in die voorval beseer.
En tweedens skryf die koerant die ikoniese John Theunissen wat die gesig van Matjiesfontein in die Karoo geword het, is aan kanker oorlede.
# En Cape Times:
Skryf die ANC het ‘n opdraende stryd om sy kandidatelys betyds te voltooi.
En berig ook oor die bewerings teen Nosiviwe Mapisa-Nqakula.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig tydens die eerste openbare verhoor in Nelson Mandelabaai oor die voorgestelde onderwyswysigingswetsontwerp het ouers na sekere kwessies as walglik en immoreel verwys.
En tweedens skryf die koerant Gqeberha het nou vir meer as ‘n jaar nie meer spoedkameras nie, maar die metro het intussen hul sigbaarheid en wetstoepassing uitgebrei.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf dringende samesprekings word gevoer aangesien ‘n staking deur werknemers van die eThekwini Munisipaliteit verbonde aan die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie besig is om ‘n negatiewe uitwerking op toerisme te hê.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar is ‘n entstoftekort in Namibië en dis reeds vir ’n geruime tyd onmoontlik om entstowwe teen hepatitis A en ingewandskoors te bekom.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese Inkomste-agentskap ondersoek nuwe klaringsmodelle dat ingevoerde goedere vinniger vrygestel word.