Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uittredende uitvoerende hoof van FirstRand, Alan Pullinger, waarsku dat Suid-Afrika se geld opraak en onkonvensionele finansieringsmetodes gebruik word wat ekonomiese stabiliteit en groeivooruitsigte in gevaar kan stel.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die EFF-leier, Julius Malema moet besluit of Floyd Shivambu die regte persoon is om die party se verkiesingstryd in KwaZulu-Natal te lei.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig twee chrirurge van Johannesburg wat gereeld New Castle in KwaZulu-Natal besoek om pasiënte te behandel, gaan hulle praktyke in die dorp sluit. Een van hulle, dokter Jameel Desai is deur ‘n blouligbende op die N3 oorval en ontvoer. Daar was verlede week vyf soortgelyke voorvalle op die snelweg.
En tweedens skryf die koerant die oud-Bok Johan Goosen moet sy voormalige vriend, Armandt Stoman, 1,8-miljoen-rand betaal nadat laasgenoemde se been in ‘n skietongeluk vergruis is.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die beslissings van wit regters is tans in die soeklig,
berig tweedens, daar is beroepe dat die salarisse van universiteitsrektore gesny moet word,
en laastens skryf die koerant oor die lot van die slagoffers van die Marikana-slagting 12 jaar later.
# Sowetan:
Berig oor hoe die moord op ‘n taxibaas maande voor die AKA-moorde daartoe gelei het dat die polisie die verdagtes vasgetrek het. Die polisie het die motor waarmee hulle gevlug het met ammunisie en tradisionele beskermende medisyne gevind.
# En The Citizen:
Lei met: “WHAT IS PRAVIN REALLY HIDING?” Die koerant skryf daar is talle vrae oor sy geheimhouding van die Takatso/SAL-transaksie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n verdoemende verslag oor Bloemfontein se omstrede Hauweng-busprojek dui volgens die Mangaung-burgemeester, Gregory Nthatisi daarop dat daar grootskaalse bedrog gepleeg is.
En tweedens skryf die koerant ook oor die oud-Bok Johan Goosen wat 1,8-miljoen-rand betaal het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die soektog na die vermiste sewejarige Joslin Smith van Saldanha wat nou verder uitgebrei is met die spesiale ondersoekeenheid van die Kaapstadse Metro wat ook ontplooi is. Die beloning vir inligting wat tot haar opsporing sal lei, is tot 250-duisend-rand verhoog.
En tweedens is daar nuus oor ‘n bobbejaan wat meer as 40-kilometer tot in Elsiesrivier onder die enjinkap van ‘n motor saamgery het en deur die DBV gered is.
# En Cape Times:
Skryf organisasies wat swart regsgeleerdes verteenwoordig het die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel gedagvaar om die Regsektorkode te publiseer om transformasie in die sektor te bespoedig.
En berig ook oor die Metropolisie se spesiale ondersoekeenheid wat ontplooi is om na Joslin te soek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die uitvoerende hoof van Outworx, Robin Hoekstra sê daar is wêreldwye belangstelling in oproepsentrumdienste wat in die Oos-Kaap gevestig kan word. Hy het 12,5-miljoen-rand in ‘n tak in Gqeberha belê waar 500 werksgeleenthede geskep word.
En tweedens skryf die koerant die DA-LPW Bobby Stevenson gaan ná vier dekades in die politiek uittree.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Het dieselfde berig as The Star en Pretoria News oor die beslissings van wit regters wat na bewering nie strook met die Grondwet nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Het nie vandag ‘n elektroniese weergawe beskikbaar nie.