Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Gautengse Gesondheidsdepartement het personeel verseker dat hy nie oortydbetalings vir dokters in geheel skrap nie, maar bloot sy beleid hersien om te verseker dat dit binne sy begroting bly. Dit volg nadat die departement aangekondig het alle oortydbetalings sal nou deur hoofkantoor afgeteken moet word.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die minister van Polisie, Bheki Cele is uit talle oorde gekritiseer omdat hy na bewering ‘n polisiehelikopter misbruik het tydens die bekendstelling van die ANC se verkiesingsmanifes in Durban. Die polisie sê egter Cele het sy amptelike taak verrig.
Dan skryf die koerant meer as twee-duisend-600 motorfietse het in formasie na Jeffreysbaai gery om ‘n wêreldrekord te verbeter.
En laastens word berig die 40ste verjaarsdag van die vermoorde narkotiseur van Mbombela, Nicholaas Procter is stil gevier.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor Cele en die polisiehelikopter.
En berig daar dreig ‘n reusekrisis ten opsigte van afleggings en werkloosheid in die mynbedryf.
# Sowetan:
Berig ‘n 15-jarige meisie wat valslik deur die polisie in Hillbrow in hegtenis geneem is weens die vermoede dat sy ‘n onwettige immigrant is, se pa wil hê die polisielede moet verantwoording doen aan die Menseregtekommissie.
# En The Citizen:
Skryf president Cyril Ramaphosa het die naweek ‘n verkiesingsmanifes bekend gestel wat ‘n spieëlbeeld is van dié van wyle president Nelson Mandela 30 jaar gelede. Kenners vra of die kiesers steeds die ANC se beloftes gaan glo.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op die voormalige uitvoerende hoof van Centlec, Andries Mgoqi.
Dan skryf die koerant oor twee pasiënte van Pofadder in die Noord-Kaap wat probeer het om die plaaslike hospitaal se ambulans te steel.
En laastens het die koerant ‘n indrukwekkende foto van reën wat uitsak oor ‘n dorre Noord-Kaap op sy voorblad.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor Cele en die helikopter en die diefstal van Pofadder se ambulans.
Dan skryf die koerant selfs die Vloot word nou ingespan om te soek na die sesjarige Joslin Smith wat verlede week in Saldanha vermis geraak het. Duikers soek na bewering na haar liggaam in die see by Diazville.
# En Cape Times:
Skryf die DA se eie kaderontplooiing kom nou in die soeklig.
En berig ‘n beloning van 100-duisend-rand is uitgereik vir inligting wat tot die opsporing van Joslin sal lei.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha :
Berig pasiënte by die Livingstone-hospitaal in Gqeberha moet gewoond raak aan ‘n ondraaglike stank, gange vol mediese afval, vuil linne asook rommel en sigaretstompies wat oral rondgestrooi word.
En tweedens skryf die koerant oor die wêreld se grootste drywende boekskou wat vir die eerste keer in agt jaar in Nelson Mandelabaai vasgemeer het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ook oor die bekendstelling van die ANC se verkiesingsmanifes. Volgens ontleders is die manifes net vol ou beloftes wat weer aangebied is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Daar is geen uitgawe vandag nie want dit is ‘n openbare vakansiedag in Namibië ter ere aan die onslape president Hage Geingob wat gister ter ruste gelê is.