Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC het ‘n geredigeerde weergawe van sy kaderontplooiingsrekords, wat voldoen aan die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, aan die DA oorhandig. Hierin word uiteengesit hoe lojale ANC-lede in poste in die openbare sektor aangestel word. Die DA sê hy sal die rekords openbaar maak sodra hy dit bestudeer het.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die Gautengse premier, Panyaza Lesufi se Provinsiale Rede. Hy sê na verdere onderhandelings hoop die Gautense regering om die e-tol-kwessie teen Maart op te los. Lesufi sê daar gaan onder meer in vervaardiging belê word en 23-miljard-rand gaan benut word om die ekonomie te herbou.
Dan word berig oor die 13-jarige seun van die Primrose Primary School in Germiston wat die skoolhoof Noko Selepe geskiet het. Hy het glo beplan om ander personeellede ook te skiet.
En laastens is daar nuus oor ‘n driebeen-skilpad van Scottburgh in KwaZulu-Natal wat ‘n naam moet kry.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die vermoede dat die seun van Primrose Primary beplan het om ook die adjunkhoof en ‘n klasonderwyser te skiet.
En berig tweedens adjunkpresident Paul Mashatile se voorstel vir ‘n algemene verkiesing op 24 Mei is deur opposisiepartye verwerp.
# Sowetan:
Berig ook oor Lesufi. Die premier het die prestasies van sy regering in die bekamping van misdaad, die skep van werk en die ondersteuning van township-ondernemings uiteengesit.
# En The Citizen:
Skryf hoewel die DA en EFF se beleidsrigtings hemelsbreed verskil, is kenners van mening indien hulle saamwerk kan hulle die ANC in die verkiesing onttroon.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig Rudi Gericke se aansoek om ontslag in die Sorour-moordsaak is in die Rondgaande Hof in Ficksburg van die hand gewys. Die vermoorde boer, Evan Sorour se naasbestaandes het die beslissing verwelkom.
En tweedens skryf die koerant pasiënte in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein het gekla oor die haglike omstandighede en swak diens in die hospitaal.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die Al Kuwait met sowat 19-duisend beeste aan boord wat in Kaapstad vasgemeer het om voer aan boord te neem. Die DBV het die vaartuig besoek en op haglike omstandighede afgekom waaronder die diere van Brasillië na die Midde-Ooste vervoer word.
En tweedens berig die koerant oor die liggame van ‘n ma en haar tienjarige seun wat in hul woning in Bergvliet gevind is. In die stadium blyk dit of die ma selfdood gepleeg het en die seun vergiftig is.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die omstandighede aan boord van die Al Kuwait.
En berig die drama rondom die ANC se kaderontplooiing is lank nog nie verby nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor twee boeties van Kariega wat die naweek dood is toe ‘n bakkie oor hul seepkiskarretjie gery en weggejaag het.
En skryf ‘n 70-jarige inwoner van Bethelsdorp is in haar huis vermoor vir haar selfoon.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het nou ingegryp oor die waterprobleme in eThekwini.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Gekombineerde Skool Engoyi in die Oshikotostreek is in ’n haglike toestand en die bouvallige strukture hou ‘n gevaar in vir die 514 leerders.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese Haweowerheid moet ingevolge ’n hofbevel sowat 80 vraghouers van Tradeport Namibia Investments terugbesorg.