Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Junie 2026:.
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het aansoek gedoen vir nege-miljard-rand se finansiële steun om die stormskade in die provinsie te herstel. Hy sê die koste sal ‘n reuse-uitwerking hê op die provinsiale begroting.
# Mail & Guardian:
Doen verslag oor die 50ste gedenkjaar van die Soweto-betogings in 1976. Die koerant skryf Hector Pieterson sterf steeds daagliks en die jeug is nie die toekoms nie, hulle is die hede.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Bafana Bafana het gisteraand hul Wêreldbeker-veldtog op ‘n teleurstellende noot afgeskop toe hulle in die Azteca-stadion in Mexikostad 0-2 teen die gasheer vasgeval het.
En tweedens skryf die webblad die parlementêre leier van ActionSA, Atholl Trollip, sê na wat berig word verdien die regering van nasionale eenheid ‘n F-simbool.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf alles moontlik het verkeerd loop vir Bafana Bafana in hul kragmeting teen Mexiko. Die wedstryd is ontsier deur die middelveldspeler Sphephelo Sithole se duur foute, insluitend ‘n rooi kaart wat die span laat sukkel het om terug te keer.
En tweedens berig die koerant Grensowerhede het nege Bangladesjiese burgers toegang geweier wat probeer het om Suid-Afrika binne te kom met behulp van vervalste reisdokumente en visums by OR Tambo Internasionale Lughawe.
# Sowetan:
Berig ouers wat weier of nalaat om hulle kinders te laat inent, stel hulself bloot siviele eise, sou hulle ander kinders aansteek. Dit is ‘n regsmening te midde van ‘n reuse-afname in inentings vir siektes soos masels.
# En The Citizen:
Skryf oor 1,2-miljard-rand van beleggers wat na bewering verlore gegaan het. Daar was eers beloftes oor die geld wat in ‘n kripto-projek belê sou word, maar nou is die geld glo in ‘n plastiek-na-dieselaanleg belê.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens ‘n Vrystaatse makelaar en vermeende bedrieër, Robert-John Johnson, is in Spanje opgepoor. Hy het na bewering landuit gevlug met miljoene rand van beleggers.
Tweedens skryf die koerant die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, het na ‘n besoek aan Kirstenbosch in Kaapstad gesê die verslag oor wanbestuur by die nasionale botaniese tuin is oordrewe.
En laastens is daar ook ‘n berig oor Bafana Bafana se nederlaag teen Mexiko.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Makana-stadsraad en stadbestuurder staar waarskynlik ‘n verskeidenheid van strafregtelike aanklagte in die gesig wat verband hou met watervoorsiening, omgewingsbesoedeling, bedrog en menseregtevergrype.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, het diegene wat teen ongedokumenteerde migrasies betoog, versoek om dit binne die perke van die wet te doen. Hy sê die huidige betogings was grootliks vreedsaam.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
# Berig die regering se omstrede besluit om Vitol as Namibië se strategiese brandstofverskaffer aan te stel, het ’n venster oopgemaak na ’n uitgebreide korporatiewe netwerk wat reeds diep in die land se petroleumsektor gewortel is.
Dan skryf die koerant eerste minister Elijah Ngurare het staatsamptenare se bostoelaag vir eers opgeskort.
En laastens is daar nuus oor virtuele doktersafsprake.