Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Stad Tshwane het ‘n hofstryd teen Eskom en die energiereguleerder Nersa gewen, wat moontlik ‘n bykomende 125-miljoen-rand per maand in inkomste kan verseker. Die koerant skryf die Hooggeregshof het Nersa se aansoek ter syde gestel wat Eskom die reg gegee het om elektrisiteit na die nuwe Mooikloof Mega City in die ooste van Pretoria te versprei.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean McPherson, het skokbevindings oor sy departement ontbloot. Hy het veral gefokus op die Eiendomsbestuurshandelsentiteit wat verantwoordelik is vir die bestuur van een van Suid-Afrika se grootste openbare eiendomsportefeuljes.
En tweedens skryf die koerant die weermaglede in die Wes-Kaap wat onder haglike omstandighede gewoon het, is weens ‘n dreigende hofsaak deur die weermagvakbond SANWU, na Ysterplaat verskuif.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die wrede moord op 12 mense in die Cleveland- informele nedersetting in Johannesburg het wydverspreide veroordeling en hernude oproepe vir sterker optrede teen geweldsmisdaad en onwettige mynbou in Gauteng ontlok. Die koerant berig talle organisasies dring daarop aan dat president Cyril Ramaphosa self ingryp.
# Sowetan:
Het net die woord “HABASHWE!” op sy voorblad met ‘n montage van Bafana Bafana in die agtergrond. Dit beteken: “Kom ons doen dit!”
# En The Citizen:
Skryf kenners is van mening dit is net ‘n kwessie van tyd tot mynskagte wat met water vul en onwettige mynbedrywighede die skagte laat ineenstort wat ‘n enstige gevaar vir myngemeenskappe inhou.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die omstrede oudregter en parlementêre leier van die MK-party, John Hlophe, sal wel deel wees van die Ampsklagkomitee wat oor president Ramaphosa se toekoms moet besluit. Dit is omdat geen wetsvereiste gestel word vir die begrippe ‘geskik’ en ‘gepas’ nie.
En tweedens skryf die koerant Akademia het aangekondig hy het 105-hektaar in die Boschenmeer-omgewing in die Paarl verkry om ‘n Wes-Kaapse kampus te bou.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het ‘n striemende verslag teen die Oos-Kaapse Makana Plaaslike Munisipaliteit vrygestel. Dit volg op ‘n meerjarige ondersoek na volgehoue water-, sanitasie- en afvalwaterkrisisse wat inwoners se grondwetlike reg op waardigheid geskend het.
En tweedens het die koerant ‘n handige programuiteensetting vir die Sokker-wêreldbeker.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor ‘n voorval van beweerde padwoede waartydens ‘n man met ‘n mes gesteek is.
En tweedens gee die koerant vandag ‘n spesiale bylae oor die Comrades-marathon uit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig jare van negatiewe koerantopskrifte, gefrustreerde pasiënte en kommer oor openbare gesondheidsdienste het gelei tot die raamwerk vir die ministerie van Gesondheid se nuwe klagtebestuursdiens vir Openbare Gesondheid.
En tweedens skryf die koerant vertragings in die uitbetaling van studentetoelaes is veroorsaak deur universiteite wat eers in April fakture ingedien het.