Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die adjunkmisdaadintelligensiehoof, Feroz Khan, sal op 1 Julie voor die Madlanga-kommissie verskyn. Hy is onder meer deur ‘n getuie beskuldig dat hy ingemeng het in die ondersoek na ‘n 715-kilogram kokaïensaak. Khan is vroeër saam met die hoof van die Gautengse Valke, Ebrahim Kadwa, aangekla in verband met die onwettige handel en besit van edelmetale.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig daar is nog talle vrae oor die Bittereinder-leier, Francois van der Merwe, se beweerde transaksies met Rusland. Hy word aangekla van geldwassery nadat hy na bewering probeer het om twee Beninese voortvlugtiges oor die grens na Zimbabwe te smokkel.
En tweedens skryf die webblad nog vyf senior polisiebeamptes is geskors omdat hulle na bewering betrek word by die omstrede polisietender van die sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die leier van March and March, Jacinta Ngobese-Zuma, het president Cyril Ramaphosa se oproep verwerp dat die immigrasie-kwessie aan die staat oorgelaat moet word. Sy sê die president se voorstelle spreek nie die werklikheid in die gemeenskap aan nie.
En tweedens berig die koerant ook oor Feroz Khan se verwagte getuienis voor die Madlanga-kommissie.
# Sowetan:
Berig ‘n doodmoeë werknemer in die oproepsentrum van Cartrack in Rosebank het na bewering in die werkplek se toilet inmekaargesak en gesterf. Die koerant skryf Gcina Dhladhla se mediese sertifikaat is na bewering geïgnoreer.
# En The Citizen:
Skryf die e-tol-skuld wat die padagentskap Sanral afskryf, beloop 29-miljard-rand. Outa sê dis net nog ‘n aanduiding van die regering se onvermoë om betyds besluite te neem.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens een van die lede van die berugte klapmus-bende wat reeds vier gesinne in Stellenbosch se landelike gebied beroof het, is in hegtenis geneem. Hy is vasgetrek net nadat die vyf gewapende rowers ‘n vierde gesin aangeval het.
En tweedens skryf die koerant die munisipaliteit van Ceres het ‘n privaat kontrakteur aangestel om Eskom by te staan met die herstel van kragtoevoer na die gebied.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die 2026/27-begroting van 21,6-miljard-rand vir die Nelson Mandelabaai-metroraad is uiteindelik goedgekeur. Die koerant skryf dit volg op ‘n warm raadsdebat oor dienslewering, finansiële bestuur en tariefverhogings. Altesaam 61 raadslede was ten gunste daarvan en 43 daarteen.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf aanlyn dobbelary sal moontlik eersdaags belas word. Spelers sal ‘n heffing van 20-persent op bruto dobbelinkomste moet betaal. Die doel is volgens die Inkomstediens om die groeiende gewildheid en moontlike maatskaplike uitwerking aan te spreek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die plaasverkopebedryf is moedeloos omdat die ministerie van Landbou glo sloer om sertifikate van afstanddoening van plase uit te reik.
En tweedens skryf die koerant die uitvoerbaarheidstudie van 20-miljoen-rand vir Namibië se voorgestelde nasionale lugredery is voltooi en word tans hersien.