Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het gisteraand in sy Staatsrede aangekondig die regering gaan ‘n klimaatreaksiefonds stig om ekonomiese en maatskaplike skade aan te spreek wat met skadelike weergebeure verband hou.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf Ramaphosa het gestagneer en daar is min bewys dat enige lid van die ANC sy veranderinge steun. Daar is ook geen hoop dat gewone landsburgers se benarde posisie gaan verander nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die Staatsrede en die oorsig oor die afgelope 30 jaar wat Ramaphosa in sy toespraak ingesluit het. Verskeie berigte beslaan die hele voorblad van die koerant en kenners meen sy toespraak het nie die ware toedrag van sake in die land weerspieël nie.
# Sowetan:
Berig Ramaphosa se Staatsrede was ‘n verkiesingstoespraak wat die probleme wat die land ondervind hoofsaaklik geïgnoreer het.
# En The Citizen:
Skryf die president se aankondiging oor die einde van beurtkrag wat in sig is, is met gemengde reaksie ontvang.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die name van die ses slagoffers van die Hoërskool Riebeeckstad wat in ‘n busongeluk omgekom het. Die koerant berig die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag.
En tweedens is daar nuus oor die moord op ‘n 71-jarige boer van Keimoes in die Noord-Kaap, Hugo van Sittert. Hy is na bewering tydens ‘n loongeskil met ‘n werker vermoor.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die Staatsrede en staan sy hele voorblad hieraan af. Die koerant berig daar was ses-duisend-769 woorde in die toespraak, maar geen teken van ‘n staatsman nie.
# En Cape Times:
Skryf Ramaphosa se beloftes oor die beëindiging van beurtkrag was skaars koud toe word dit tot verdere kennisgewing na fase 3 verhoog.
En tweedens word berig die EFF gaan die Phala Phala-kwessie na die Konstitusionele Hof neem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die voorkoms van leerders wat na bewering deur geeste beset word en skoolverrigtinge ontwrig het ‘n algemene verskynsel geword en onderwysers weet nie hoe om dit te hanteer nie.
En tweedens skryf die koerant twee seuntjies het in die Missionvale-soutpan verdrink.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met die hoofopskrif: “RAMAPHOSA: PROMISES, PROMISES.” Die koerant skryf die Staatsrede was niks anders as net nog ‘n hoop beloftes nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig twee mans wat tereggestaan het op aanklagte van stropery en glo ’n motor vir hul strooptog gehuur het, is vrygelaat.
En skryf oor ’n gesin van 18 wat langs ‘n pad woon nadat hulle van ’n hervestigingsplaas afgesit is.