Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Februarie 2024
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya sê die Suid-Afrikaanse Intelligensie-agentskap is stabiel en toegerus om dreigemente van buitelandse inmenging in die land se verkiesing te hanteer.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die moord op die 67-jarige eienaar van Hikers Paradise in Centurion, Leni Hamilton. Sy is in haar winkel doodgeskiet toe sy ‘n groep wat geraas het, aangespreek het.
En tweedens berig die koerant oor die emosionele tonele toe naasbestaandes die liggame van die ses busslagoffers in die Vrystaat moes gaan uitken. Die ouers van die ses meisies sê hulle glo daar was nalatigheid en ondersoek moet ingestel word.
# The Star en Pretoria News:
Skryf eerstens oor Bafana Bafana se nederlaag van 4-2 teen die sokkerspan van Nigerië in die Afcon-halfeindstryd.
En tweedens word berig ‘n studie dui daarop die EFF kan beter as die DA vaar in vanjaar se verkiesing.
# Sowetan:
Lei ook met die Bafana-kragmeting en skryf op sy voorblad: “BATTLE WELL FOUGHT”.
# En The Citizen:
Se hoofopskrif lui: “WHAT IF THE ANC LOSES?” Die koerant skryf al is president Cyril Ramaphosa vol bravade oor die ANC se oorwinning in die verkiesing, bestaan die vraag met wie gaan die party ‘n koalisie vorm om aan bewind te bly.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Staan sy hele voorblad af aan die busongeluk in die Vrystaat wat ses leerders van die Hoërskool Riebeeckstad geëis het. Die koerant berig oor ouers wat die ongelukstoneel besoek het, ooggetuies wat die ongeluk oorleef het se wedervarings en die laaste ure voordat die ongeluk gebeur het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad oor die busongeluk.
En tweedens berig die koerant Markus Jooste se voormalige vermeende minares, Berdine Odendaal se hofaansoek om toegang te kry tot haar gevriesde bankrekenings is van die hand gewys.
# En Cape Times:
Skryf die EFF sê al is van hulle lede uit die Parlement verban vir die Staatsrede, hou hulle Ramaphosa steeds aanspreeklik.
En tweedens berig die koerant ook oor Bafana se drome wat verpletter is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die omstrede behuisingsbestuurder van Nelson Mandelabaai, Mvuleni Mapu wat geskors is toe hy van bedrog aangekla is, is terug by die werk. Mapu beweer sy skorsing het verval.
En tweedens skryf die koerant brandbestryders van Nelson Mandelabaai is van mening brandstigting het moontlik gelei tot die sowat 400 veldbrande wat hulle sedert 1 Januarie moes blus.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n opname toon die inwoners van eThekwini het vertroue in Ramaphosa verloor. Een inwoner het gesê hy kyk liewer die Disney-kanaal voordat hy die Staatsrede op televisie volg.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n voormalige senior superintendent by die Namibiese Korrektiewe Dienste is sedert Julie 2021 werkloos ten spyte van ’n hofbevel om hom weer aan te stel.
En tweedens skryf die koerant die liggaam van ’n bekende boer en groot rolspeler in jag- en toerismekringe, Roysten Wright is langs sy bakkie gevind nadat hy ’n veldbrand probeer blus het.