Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die provinsiale voorsitter van die EFF, Nkululeko Dunga, is as Gauteng se LUR vir Finansies aangestel. Hy vervang Lebogang Maile.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig sekere Ford Ranger XLT-, Wildtrak-, Ford Puma-, en Hino 700-voertuie is herroep. Die Nasionale Verbruikerskommissie sê hy is deur Toyota en Ford ingelig dat daar probleme met die voertuie is.
Dan skryf die webblad die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, het Helen Zille gekritiseer omdat sy in ‘n gat in ‘n straat in Douglasdale gaan “swem” het. Hy sê sy moes eerder langs die gat gestaan het. Die gat is intussen oornag toegegooi nadat inwoners reeds drie jaar daarvoor vra.
En laastens word berig die premiers van provinsies het in die Palement gesê leefstyloudits is baie duur om uit te voer. Talle het ook gesê hulle beskik nie oor die vermoë om die oudits te doen nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor Dunga se aanstelling as Gauteng se LUR vir Finansies. Die aankondiging is gemaak nadat premier Panyaza Lesufi sy kabinet herskommel het.
# En Sowetan:
Het ook nuus oor Dunga se aanstelling en skryf die skuif is strategies sodat die ANC en Malema se party kan herbelyn met die oog op die plaaslikeregeringsverkiesing.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die ontplooiing van weermaglede op die Kaapse Vlakte om bendegeweld te bestry. Volgens die koerant is daar skynbaar slegs 28 soldate beskikbaar om 13 gebiede te beskerm. Voorts is die weermag se brandstof ook glo op.
En tweedens skryf die koerant oor die 26-jarige Marlene van Staden, ‘n fotograaf van Mosselbaai, wat doodgeskok is toe haar eenpoot [monopod] aan ‘n oorhoofse kragdraad geraak het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Animal Anti-Cruelty League het die pas aangestelde operateur van Nelson Mandelabaai se munisipale skut hof toe geneem oor bewerings van verwaarlosing. Die hof het opdrag gegee dat die skut sy oorsig en dieresorg drasties opskerp.
En tweedens skryf die koerant dit blyk daar is geen uitkoms in sig vir Gqeberha se voortslepende kragprobleme nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf na weke se gesloer is die Grey’s-hospitaal in die stad steeds sonder lugreëling.
En berig ‘n toiletprojek ter waarde van 137-miljoen-rand het vasgeval en daar is geen vordering nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië moet begin om die bou van groot projekte aan ondernemings in plaaslike besit toe te vertrou. Die koerant skryf dit sal ‘n beduidende beleidsverskuiwing inhou.
En tweedens skryf die koerant byna een uit elke drie Namibiërs ontvang ’n maatskaplike toelaag, terwyl ongeveer een uit elke ses mense in die land ’n werk het.
Die volgende uitgawe van die koerantverslag sal weer op Dinsdag 7 April verskyn.