Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Kaapstadse burgemeester en DA-leierskandidaat, Geordin Hill-Lewis sê ‘n nuwe debat met ‘n meer pragmatiese benadering is nodig om swart bemagtiging aan te spreek.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n bekende motorfietsryer van Pretoria verbonde aan Modderbok Adventures se geldinsamelingsveldtog vir brandslagoffers, Jason Kilian, is Saterdag ernstig beseer in ‘n ongeluk naby Carnarvon.
Tweedens skryf die webblad die Tshwane Metro gaan na ‘n dekade die aanwysingsbord na “Chruch Street” in Pretoria vervang.
En laastens is daar nuus oor die Blitsbokke wat deurgedring het na die eindstryd in Vancouver nadat hulle Australië met 19-12 geklop het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf sogenaamde spookvoertuie ter waarde van 16-miljoen-rand is in Emfuleni opgespoor. Die vullisvragmotors is aangekoop en nooit afgelewer nie.
Dan word berig die Bosasa-ondersoek gaan uitgebrei word na die skuldigbevinding en vonnis van die voormalige ANC-LP Vincent Smith.
En laastens is daar nuus oor ‘n werknemer van Goudrifstad wat ‘n eis van 229-duisend-rand gewen het.
# Sowetan:
Berig ook oor Emfuleni se vullisvragmotors wat aangekoop en nooit ontvang is nie. Die koerant skryf die munisipaliteit het op die bedrieglike voertuigtransaksies afgekom na ‘n forensiese oudit.
# En The Citizen:
Skryf die miljardêr Patrice Motsepe het amptelik aangekondig dat hy nie belangstel in die presidentskap van die ANC nie. Hy sê hy het nie politiek nodig om mense te help nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die Suid-Afrikaanse seiljagkaptein, Hugo Hattingh se terugkeer na Suid-Afrika. Hy is agt maande gelede ernstig beseer in ‘n ontploffing op ‘n katamaran in Thailand. Hattingh het sy oorlewingstorie met die koerant gedeel.
En tweedens is daar nuus oor die hittegolf in die Wes-Kaap en Noord-Kaap. Mediese dokters waarsku mense om liefs uit die son te bly.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig The Bridge-winkelsentrum gaan vir 535-miljoen-rand verkoop word.
En skryf die Nelson Mandelabaai-metro wil graag permanente aanstellings maak om die stad se waterkrisis te hanteer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Rio Tinto het ‘n belegging van 8,5-miljard-rand gedoen in sy bedrywighede by Richardsbaai wat sy betrokkenheid tot 2050 uitbrei.
En tweedens word berig die Pietermaritzburg-gemeenskap rou oor die verlies van ‘n moeder en haar tienerdogter. Christina Joseph en Brooklyn Hemmero, is tragies in hul huis vermoor.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n voorstel deur die Namibiese Weermag om ’n militêre operasionele gebied naby Karibib in ’n permanente verbode lugruim te omskep, kan toerisme, mynbou en noodvlugte in die Erongostreek ontwrig.
En tweedens skryf die koerant grond wat deur die regering gediens word, moet gebruik word om gewone Namibiërs te bevoordeel en nie privaat ontwikkelaars nie.