Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Hooggeregshof het die minister van Finansies, Enoch Godongwana opdrag gegee om nie BTW in die volgende 24 maande te verhoog nie. Die kwessie is ingevolge ‘n bevel terugverwys na die Parlement vir verdere beraadslaging.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met “IRAN WAR RATTLES SA”. Die koerant skryf die konflik in die streek stoot globale oliemarkte hoër, met moontlike gevolge vir Suid-Afrika se brandstofpryse, inflasie en rentekoerse.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n voormalige vennoot van die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die polisie het haar ontvoer. Sarah Jane-Trent het getuig sy is in 2017 in ‘n polisiesel by die Kameeldrift-polisiestasie toegesluit omdat sy glo haarself as ‘n OPOD-beampte voorgedoen het.
Tweedens skryf die webblad die ANC is erg ontsteld oor die DA se advertensiebord. Dit beeld die Gautengse premier te midde van die waterkrisis onder ‘n stort in ‘n hotel uit. Die ANC sê dis in swak smaak.
En laastens is daar ‘n berig oor die Wes-Kaapse premier Alan Winde wat in ‘n fietsrybroek en pienk sokkies in die wetgewer opgedaag het. Daar is tans nog geen verduideliking vir die optrede nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die families van die 14 kinders wat in die Vaal-ongeluk omgekom het, sukkel om die verlies en hartseer te verwerk.
Tweedens word berig ontvoerings is besig om toe te neem in Gauteng.
En laastens skryf die koerant Iran sê die oorlog het reeds die lewens van meer as een-duisend-200 slagoffers geëis.
# Sowetan:
Berig die Zondo-kommissie het sy eerste groot staatskaper vasgetrek. Die voormalige ANC-parlementslid, Vincent Smith is tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis vir bedrog.
# En The Citizen:
Stel ondersoek in na die moontlikheid dat mense eerder selfdood verkies as om in Suid-Afrika se swak gesondheidstelsel vasgevang te word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n bekende boer van die Bokkeveld is dood in ‘n ongeluk tussen ‘n bakkie en ‘n vragmotor.
En tweedens skryf die koerant bek-en-klouseer-inentings is nou gefokus op Swartland-plase.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelbaai-metro se besluit om 14-miljoen-rand van die biblioteek se begroting vir ander projekte aan te wend word ernstig gekritiseer.
En tweedens skryf die koerant oor ander begrotingsprobleme wat die metro ook moet oplos.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Suid-Afrikaanse regering help Suid-Afrikaners in die buiteland deur nuwe oorsese fasiliteite in te stel om die verwerking van slim-ID’s en paspoorte te bespoedig, wat wagtye tot vyf weke verminder.
En tweedens word berig die weermag is in sekere dele ontplooi om te help met misdaadbekamping.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig privaat spesialiste is onseker hoe en wanneer hul dissiplines deur Visie April 2026 geraak gaan word en of die dienste wat tans nie in die staatsektor beskikbaar is nie, steeds toeganklik vir Psemas-lede sal wees.
En tweedens skryf die koerant die twee Britte wat Woensdagnamiddag in ’n vliegtuigongeluk naby Gobabeb in die Namib-Naukluft Nasionale Park, dood is, was skaars ’n week in die land toe die noodlot tref.