Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Franse vermaaklikheidsreus Canal+ het ‘n uitkoopaanbod van 46-miljard-rand vir MultiChoice gemaak. Dit sal volgens die koerant die Afrika-betaaltelevisiemonopolie se reëls oor buitelandse eienaarskap en beheer van die media toets.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Bevraagteken Suid-Afrika se saak teen Israel by die Wêreldhof. Die koerant ondersoek wie eintlik agter die idee sit.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor ‘n misdaadsindikaat wat boere in Noordwes teister. Volgens die DA het die boere die afgelope drie maande reeds verliese van vyf-miljoen-rand gely. Hoewel inligting aan die polisie verskaf word, doen hulle na bewering niks nie.
Dan skryf die koerant oor Bessie, die sesjarige Yorkie van Zeerust in Noordwes, wat gered is nadat ‘n skerpioen haar gesteek het.
En laastens word berig die akteur, Alec Baldwin het skuld ontken op ‘n aanklag van onwillekeurige manslag. Die saak hou verband met die skietdood van die kinematograaf Halyna Hutchins in 2021.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oor ‘n mensehandelsindikaat wat in Johannesburg oopgevlek is.
En berig oor die tipes swendelary waarvoor die koerant se lesers vanjaar versigtig moet wees.
# Sowetan:
Berig oor die donker verlede van Pieter Groenewald van Groblersdal wat saam met sy stiefseun tereg staan vir aanranding. Die koerant skryf hy het na bewering in die verlede twee moorde gepleeg en na die buiteland gevlug waar hy in hegtenis geneem is.
# En The Citizen:
Skryf met 85-persent van die Suid-Afrikaanse Lugmag se vliegtuie wat weens finansiële probleme nie kan opstyg nie, is daar talle vrae oor die beheer van die land se lugruim.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Bloemfontein-streekhof het beslis die aanklag teen ‘n adjunkdirekteur in die Vrystaatse premier se kantoor, Abigail Nakedi is geldig. Sy het na bewering ‘n vrylatingsertifikaat vir ‘n gevangene gekoop.
Tweedens skryf die koerant ‘n vrou van Vioolsdrif in die Noord-Kaap wat bewering kinders in haar Bybelstudieklasse gemolesteer het, is in die Springbok-streekhof borgtog geweier.
En laastens is daar nuus oor die nuwe hoof van die Hoërskool Sand du Plessis, Riana Nel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die brande wat die Wes-Kaap die afgelope weke teister. Die koerant berig oor ‘n brandbestryder, Frank Douglas van Hangklip wat feitlik al sy en sy gesin se besittings in die brand verloor het. Hulle kon hul twee honde en papegaai red.
En tweedens skryf die koerant Markus Jooste se vermeende minares, Berdine Odendaal probeer tans om van die fondse in haar gevriesde bankrekenings in die hande kry.
# En Cape Times:
Ondersteun eerstens beroepe dat die Wes-Kaapse brande as ‘n ramp verklaar moet word.
En berig miljoene rand is reeds uitbetaal aan dooie Sassa-bevoordeeldes.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig opposisiepartye in die Nelson Mandelabaai-raad het ‘n beroep gedoen dat die straftarief vir watergebruik verlaag moet word. Met die Impofu-dam se vlak op 45-persent lyk die kanse nie goed nie.
En tweedens skryf die koerant die bestuurder van ‘n bussie wat leerders in Addo vervoer is dood en drie kinders ernstig beseer toe die voertuig deur ‘n trein getref is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf Philani Mavundla van die Abantu Batho Congress word uitgekryt as ‘n huigelaar omdat hy die ANC-burgemeester van eThekwini in die mosie van wantroue ondersteun het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar is ‘n ondersoek van stapel gestuur na beweerde growwe wanbestuur by Meatco. Die uitvoerende hoof en bestuurslui word by die ondersoek betrek.
En tweedens skryf die koerant talle huise in ‘n massabehuisingsprojek in Windhoek staan steeds leeg.