Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Amerikaanse hofuitspraak teen president Donald Trump se internasionale handelstariewe is algemeen verwelkom, maar daar is steeds onsekerheid oor Suid-Afrikaanse uitvoere. Die koerant skryf handelsvooruitsigte is steeds swak.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Valke het gister 20 mense in hegtenis geneem in verband met bedrog van 113-miljoen-rand in die Mpumalanga Departement van Onderwys. Van die verdagtes is in Limpopo, Gauteng en die Wes-Kaap in hegtenis geneem.
Dan skryf die webblad oor die vyfjarige Lemica Galant van Atlantis in Kaapstad wat voor haar ma, Mickalah doodgery is. ‘n Vier-en-dertigjarige man is in hegtenis geneem op ‘n klag van strafbare manslag.
En laastens is daar nuus oor die Protea-mans se oorwinning oor Indië in die Super 8-kragmeting.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf president Cyril Ramaphosa is gekritiseer omdat hy nasionale gesondheidsversekering vertraag. Hy wil hê die hofaansoeke oor die fonds se grondwetlikheid moet eers afgehandel word.
En tweedens word berig die Johannesburgse burgemeesterswedloop het in alle erns begin.
# Sowetan:
Berig die inwoners van die Sporong informele nedersetting in Randfontein leef steeds in vrees, al is meer polisiebeamptes ontplooi om die zama zamas te beheer.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die Johannesburgse burgemeesterswedloop. Herman Mashaba en Helen Zille sê mekaar die stryd aan, maar kenners is van mening Mashaba met sy ANC-steun is tans die voorloper.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die beslissing deur die Amerikaanse Hooggeregshof dat Trump se wederkerige tariewe onwettig is, word oral verwelkom. Die koerant skryf ekonome waarsku egter Suid-Afrika moet nie te gou feesvier nie, want dis nie duidelik hoe dit die tariewe teen die land gaan raak nie.
En tweedens skryf die koerant ‘n jong luiperd is in die Huisrivierpas tussen Calitzdorp en Ladismith doodgery. Die dier is moontlik een van drie jong luiperds wat in die omgewing opgemerk is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die inwoners van Nelson Mandelabaai is verheug dat die weermag ontplooi gaan word teen die bendegeweld in die gebied. Gemeenskapsleiers sê daar is egter langdurige uitdagings wat eers aangespreek moet word.
En tweedens skryf die koerant die Oos-Kaapse regering sit met ‘n skuldprobleem van amptenare ter waarde van 253-miljoen-rand.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens die Konstitusionele Hof het bevestig dat Misuzulu kaZwelithini wel die koning van die Zoeloes is en die deel van sy familie wat by die hof aansoek gedoen het se appèl verwerp.
En tweedens word berig planne word oor ‘n wye front gemaak om Tongaat Hulett te red.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig baie bewaringsgebiede het nie die kapitaal en kundigheid om toegekende konsessies te bestuur nie. Die koerant skryf hulle het nou by die ministerie aangeklop om hulle te help om privaat operateurs aan te stel om die projekte te ontwikkel en befonds.
En tweedens skryf die koerant daar is tans geen wetgewing wat die ministerie van Stedelike en Landelike Ontwikkeling bemagtig om huurpryse te beheer nie.