Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Getuie F het voor die Madlanga-kommissie beweer die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Shadrack Sibiya, het die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala onder druk geplaas om sy beëdigde verklaring te verander.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die 40-jarige Quin van den Bergh wat erken het hy het sy eks-verloofde, die 31-jarige Barbara Groenewald, in 2022 met ‘n mes gesteek en toe haar huis aan die band gesteek. Sy is dood aan mes- en brandwonde. Die saak dien nou in die Klerksdorp-landdroshof.
Tweedens skryf die blad oor die DA-leier, John Steenhuisen, se besluit om uit die party se leierskapstryd te tree. Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis het aangedui hy sou belangstel om homself beskikbaar te stel.
En laastens word berig die vermiste Mariana Kotze van Marloth Park is in Kemptonpark opgespoor nadat sy moontlik met ‘n bus daarheen gereis het. Daar is vroeër berig sy is ontvoer.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die familiegeveg oor wyle adjunkpresident David Mabuza se pensioenfonds duur voort. Mabuza se dogter Tamara Silinda eis die helfte van wat aan sy vrou Nonhlanhla Patience Mnisi bemaak is. Sy sê haar ma, Emunah Silinda was met Mabuza getroud.
En tweedens berig die koerant oor dokter Wouter Basson wat die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika uitdaag oor sy registrasie.
# Sowetan:
Berig ook oor Steenhuisen se uittrede en sê Hill-Lewis en Solly Msimanga is moontlike kandidate.
# En The Citizen:
Skryf Steenhuisen se besluit het ‘n debat in die party laat ontstaan oor Helen Zille se oorheersende leierskapsrol in die DA.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig breedvoerig oor Steenhuisen se besluit, die stand van sake in die DA en Hill-Lewis se voorneme on homself as leierskandidaat beskikbaar te stel. Oudleier Tony Leon sê Steenhuisen het die regte besluit geneem vir homself, die party en die land.
En tweedens skryf die koerant Sibusiso Sizatu, Tshepo Renaldo Mohale, en Andrea Myburg is veilig nadat die seiljag Angel Wings in ernstige moeilikheid beland en gesink het tydens die Cape2Rio-wedvaart.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die vermeende moordenaar, Mervyn Bock wat teregstaan vir die moord op sy vriendin Angelique Strydom se eienaardige Google-soektogte het in die hof aan die lig gekom.
En tweedens skryf die koerant die leiers in die motorbedryf het vergader om die toekoms van die bedryf in die Oos-Kaap te bespreek.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Steenhuisen het as een van die redes vir sy onttrekking uit die DA-leierskapstryd aangevoer dat hy sy volle aandag nou aan die bekamping van bek-en-klouseer wil skenk.
En tweedens word berig die lugversorging in Grey’s-hospitaal het opgepak te midde van die hittegolf wat Pietermaritzburg nou getref het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig opposisieleiers het die regering beskuldig dat hy wette ontwerp vir die belange van dié wat aan bewind is, eerder as vir die land se langtermynbehoeftes.
En tweedens skryf die koerant ruikers gemaak van banknote is onwettig en hou finansiële gevolge vir die land in.