Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf president Cyril Ramaphosa sê die ANC verwag politieke en ekonomiese terugvegveldtogte, insluitend die aanhitsing tot ‘n regimeverandering in Suid-Afrika, ná die regering se suksesvolle saak teen Israel by die Wêreldhof.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die jongste indeks van persepsies oor korrupsie dui daarop dat Ramaphosa se regering selfs meer korrup is as dié van oudpresident Jacob Zuma. Die indeks is wêreldwyd uitgereik deur Transparency International.
En tweedens skryf die koerant terwyl die Departement van Water en Sanitasie en Rand Water vasgevang is in rompslomp, het die inwoners langs die Vaalrivier self ingespring om die waterslaai of Pistia stratiotes uit die rivier te verwyder.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die korrupsie-indeks.
En berig die musikant, Arthur Mafokate se hofaansoek om die luukse La Villa Rosa-gastehuis in Midrand te behou is van die hand gewys. Die eiendom is na bewering aangekoop met ‘n loteryskenking aan die Suid-Afrikaanse Kuns- en Ontwikkelingsorganisasie.
# Sowetan:
Berig die bestuur van Rand Water het hul persoonlike sekerheid opgeskerp ná die sluipmoord op een van die senior bestuurders, Teboho Joala. Hulle sê hulle weet nie wie is volgende nie.
# En The Citizen:
Skryf die DA-leier, John Steenhuisen het onder ernstige kritiek deurgeloop ná sy opmerkings oor Gautengse amaPanyaza-misdaadbewaarders. Hy is van rassisme beskuldig nadat hy beweer het hulle is dronklappe.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die 64-jarige kankerlyer Carol de Swardt wat in Switserland aangekom het om haar lewe deur bystandsdood te beëindig. Sy word bygestaan deur professor Sean Davison.
En tweedens skryf die koerant die stadsraad van Jagersfontein wil voor die Paasnaweek die dorp se twee swembaddens herstel wat 30 jaar gelede in onbruik verval het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die berig oor Carol de Swardt.
Tweedens deel die koerant lesers se foto’s oor die wydverspreide brande in Pringlebaai.
En laastens is daar nuus oor ‘n inwoner van Somerset-Wes wat ‘n Kaapse kobra in sy motorenjin gevind het.
# En Cape Times:
Skryf Ramaphosa sê Zuma se skorsing sal geen uitwerking op die ANC hê nie.
En berig ook oor die persepsies oor korrupsie in Suid-Afrika.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n voorstel is gedoen om die William Moffett-snelweg te hernoem na die anti-apartheidsaktivis en bekroonde joernalis, Dennis Brutus.
En tweedens skryf die koerant die leerders van ‘n skool in KwaDwesi dring aan op skoolklere wat meer LGBTQI+-vriendelik is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die eThekwini Metro dring daarop aan inwoners moet skulderkennings onderteken of die risiko van onteiening loop ten spyte van ooreenkomste wat aangegaan is oor foutiewe waterrekeninge.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese regering gaan 30 Toyota Fortuners en twee Toyota V8 Landcruisers vir amptelike gebruik deur staatsamptenare koop.
En skryf die Kanadese maatskappy Osino Gold Exploration and Mining oorweeg dit om ‘n dam in die Khanrivier te bou.