Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het opdrag gegee dat ‘n taakspan 14 polisiebeamptes wat in die voorlopige verslag van die Madlanga-kommissie betrek is, verder ondersoek en dat hulle vervolg word. Die koerant skryf daar is egter vrae oor die uitsluiting van die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die EFF het voor die keuse te staan gekom om Julius Malema se leierskap van die party te evalueer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die voormalige finansiële hoof van administratiewe dienste in die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, Tiyani Hlungwani, het voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig die destydse kommissaris van polisie, Kehla Sithole, het hom gedwing om geld uit die geheime fonds vir die ANC se verkiesingskonferensie in 2017 te bewillig.
Dan skryf die webblad die 41-jarige Paolos Patrick Lekhooane is deur Lesotho aan Suid-Afrika uitgelewer om tereg te staan vir die moord op sy vriendin.
En laastens is daar nuus oor Showmax wat volgens die nuwe eienaars van MultiChoice, die Franse maatskappy Canal+, glad nie suksesvol is nie. Groot veranderinge sal hier aangebring word om koste te bespaar.
GAUTENG:
# The Star:
Berig oor die taxi-ongeluk op die R-102 in Lotuspark in Isipingo naby Durban waarin 11 mense dood en nog agt beseer is. Die koerant skryf die ongeluk was tussen ‘n minibustaxi en ‘n vragmotor en verskeie passasiers was in die wrak vasgekeer.
# Sowetan:
Lei met: “MADLANGA STINGS”. Die koerant skryf ook oor die taakspan wat gevorm is om 14 polisiebeamptes verder te ondersoek nadat die Madlanga-kommissie in sy voorlopige verslag bevind het daar is prima facie getuienis teen hulle.
# En The Citizen:
Sit vandag sy ondersoek voort na gebiede waar die Gautengse regering belastinggeld mors. Die koerant skryf oor ‘n kliniek wat leeg staan terwyl Gauteng ‘n nuwe kliniek daar naby teen agt-duisend-rand per maand huur. Daar is ook nuus oor ‘n lisensiekantoor wat teen 200-miljoen-rand opgeknap is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die taakspan wat saamgestel is om die vervolging van 14 polisiebeamptes wat in die Madlanga-verslag betrek word te ondersoek. Die koerant skryf die president is nie bereid om vir die finale verslag te wag voordat hy optree nie.
En tweedens skryf die koerant ‘n aantal passasiers op die Seven Seas Voyager wat op 13 Januarie uit die Kaapstad-hawe vertrek het vir ‘n reis van 14 dae, het ‘n maagvirus opgedoen en was vir die grootste deel van die vaart dodelik siek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Skryf die volgende burgemeester van Nelson Mandelabaai gaan volgens kenners waarskynlik uit ‘n DA/ANC-koalisie aangestel moet word.
En tweedens word berig die metro het versoek dat kinders nie in die water van gebarste pype speel nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig eerstens ook oor die taxi-ongeluk naby Durban waarin 11 mense, waaronder ‘n kind, omgekom het.
En tweedens skryf die koerant die Msunduzi-metro moes talle vrae oor sy finansies beantwoord tydens sy verskyning voor Skoor.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese ministerie van Onderwys, Vernuwing, Jeug, Sport, Kuns en Kultuur sê tydelike klaskamers by skole is weer nodig namate stygende leerdergetalle die skoolinfrastruktuur oorweldig.
En tweedens skryf die koerant Namibië loop die risiko om beheer oor kritieke nywerhede te verloor as staatsondernemings en plaaslike beleggers nie beslissend optree nie.