Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig City Power in Johannesburg wil beheer neem oor die Kelvin-steenkoolkragsentrale om sy afhanklikheid van Eskom te verminder en goedkoper elektrisiteit te verskaf. Die kragsentrale word tans deur Anergi besit, wat die meerderheidseienaar is. Daarbenewens is onder meer die Openbare Beleggingskorporasie namens die Staatsamptenare se Pensioenfonds ook betrokke.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die bestuurder van die taxi waarin 12 leerders in Vanderbijlpark dood is, se openbarebestuurspermit het in November verlede jaar verval. Hy is in hegtenis geneem en word aangekla van 12 sake van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.
Tweedens skryf die webblad die Mbombela-munisipaiteit het ‘n ontruimingsbevel uitgereik nadat dit aan die lig gekom het dat die wal van die Senteeko-dam tussen Kaapsehoop en Barberton enige tyd kan breek.
En laastens word berig COSATU is ongelukkig oor die salarisverhogings van politici.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die families van die slagoffers van die taxi-ongeluk in Vanderbijlpark is uiters ongelukkig oor die wyse waarop hulle op die ongelukstoneel behandel is.
En tweedens word berig die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero, het onderneem om op te tree teen diegene wat nie hulle dienste- of kragrekenings betaal nie.
# Sowetan:
Berig sowat 600 inwoners van die Sporong-nedersetting in Randfontein het uit hul huise gevlug nadat hulle na bewering deur zama zama’s geïntimideer is. Hulle het nou huisvesting in die Randgate-saal.
# En The Citizen:
Lei met: “CRIME: HOW TO FIGHT IT”. Die koerant skryf die organisasie, Safe Citizens, kritiseer die Vuurwapenwetsontwerp. Hulle sê wetsgehoorsame burgers word gestraf terwyl sindikate floreer. Volgens die organisasie word 64 mense daagliks vermoor.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met COSATU se ongelukkigheid oor die vier-persent salarisverhoging wat aan parlementslede toegestaan is. Die vakverbond sê dis ‘n bewys van hoe doof die regering is vir wat in die land aangaan.
Tweedens skryf die koerant ‘n 53-jarige man is in hegtenis geneem vir die moord op ‘n oudspeurder van Plettenbergbaai. Die liggaam van Anneke van Heerden is Sondag langs haar motor in Keurboomstrand gevind.
En laastens is daar nuus oor Glen in die Vrystaat se luiperd wat toe al die tyd ‘n tierboskat was.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n ouditverslag oor Nelson Mandelabaai bevat slegs slegte nuus.
Tweedens skryf die koerant al hoe meer skole in die Baai het vanjaar besluit om selfone uit klaskamers te verban.
En laastens is daar nuus oor die watersituasie in Gqeberha. Dit is in die stadium onduidelik hoekom die stad se watervoorraad aanhou daal.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig oor die getuienis van Robert McBride voor die parlementêre ad hoc-komitee dat die polisie se misdaadintelligensie deurspek is met korrupsie.
En skryf ook dat die bestuurder van die taxi in die Vanderbijlpark-ongeluk aangekla is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar het ‘n regshulpgeskil ontstaan in die voortgesette Fishrot-korrupsieverhoor. Verdedigingsprokureurs voer aan hul kliënte word benadeel deur die staat se ongelyke toekenning van hulpbronne.
En tweedens skryf die koerant Arandis wil die vervoer van giftige afvalstowwe deur die dorp stop.