Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf Suid-Afrika se wynuitvoer het in 2023 met 17-persent tot 306-miljoen liter gedaal. Dit volg deels omdat hoë inflasie en rentekoerse die verbruikerskeuse in sommige van die land se sleutelwynuitvoermarkte beïnvloed het.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola sê Suid-Afrika het die versekering ontvang dat diegene wat geweld of volksmoord teen die Palestyne aanhits strafregtelik ondersoek sal word.
Dan skryf die koerant ‘n bespuitingsvlieënier van Boksburg, Ernie Marais is dood toe sy vliegtuig naby Ermelo neergestort het.
En laastens is daar nuus oor die hond, Miley van Somerset-Wes wat gered is nadat entstof ‘n duisend kilometer vèr gebring is nadat ‘n boomslang haar gebyt het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oudpresident Jacob Zuma is steeds ‘n probleem vir die ANC terwyl hy ‘n lid bly, maar stemme werf vir die nuwe MK-party.
En tweedens word berig die bestuurders van busmaatskappye kan vervolg word indien hulle onwettige immigrante die land inbring.
# Sowetan:
Berig die NSFAS-skuld aan universiteite belemmer ontwikkeling. Die Universiteit van Pretoria is 182-miljoen-rand verskuldig en sê hy het die opgradering van koshuise vir eers gestaak.
# En The Citizen:
Skryf met Prasa wat die sekerheidskontrak by die Benoni-spoorwegstasie aan die Oos-Rand gekanselleer het, is die stasiegebou en spoorlyn stuk-vir-stuk weggedra todat daar geen treindiens meer moontlik is nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die Palestina-kwessie. Die koerant berig Lamola sê Suid-Afrika het sy doelwit bereik by die Wêreldhof.
Dan skryf die koerant oor die prestasie van die verlamde swemmer, Liané Heymans wat tweede plek behaal het in die Smithfield Stronger Together-driekamp.
En laastens word berig ‘n Vrystaatse dokter, Ella Morrison eis 2,6-miljoen-rand van Cape Canopy Tours nadat sy in ‘n ongeluk betrokke was op ‘n kabelglybaan in Elgin.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig daar is uiteenlopende menings oor die Wêreldhof-uitspraak oor die Israel/Palestina-konflik. Kenners is van mening die uitspraak sal nie die geweld beëindig nie.
Dan skryf die koerant oor die Wilgenhof-debakel by Universiteit Stellenbosch nadat sogenaamde ontgroeningskamers gevind is.
En laastens is daar nuus oor die Bainskloofpas wat gesluit is weens veldbrande in die Wolseley-omgewing.
# En Cape Times:
Lei ook met die Zuma-dilemma vir die ANC.
En skryf die meeste massamoorde in die land kom voor in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur is nie van plan om die Rocklands-satellietpolisiestasie op te knap nie. Die departement sê die polisie moet aansoek doen vir ‘n permanente struktuur op die perseel.
Dan skryf die koerant die inwoners van Nelson Mandelabaai het besluit om self St George’s Park reg te ruk, wat die afgelope jare verwaarloos, toegegroei, en deur rondlopers beset is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die nuwe eerste minister van die Zoeloe-nasie en voormalige burgemeester van die Zoeloeland-distriksmunisipaliteit, Thulasizwe Buthelezi is met gemengde gevoelens ontvang.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar was in die huidige reënseisoen nog geen invloei in die drie damme wat Windhoek van water voorsien nie.
En skryf die Teenkorrupsiekommissie het gemaan teen die gebruik dat staatsondernemings vir ministers se reise betaal. Die kommissie sê dis ‘n korrupte gewoonte.