Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die Reserwebank het koerse onveranderd gelaat maar gewaarsku dat inflasie volhoubaar op die vlak van 4,5-persent moet bly voordat verligting in die vooruitsig gestel kan word.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Onthul vandag hoe halfgeboude staatsbehuisingsprojekte deur sindikate gekaap word en verder ontwikkel word.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die helde-ontvangs wat Suid-Afrika se UFC-wêreldkampioen, Dricus du Plessis met sy aankoms by die OR Tambo Internasionale Lughawe ontvang het. Du Plessis het gesê hy bly by sy kritek teen die Suid-Afrikaanse regering.
En tweedens word berig die 55-jarige Anton Bouwer het in die Kemptonpark-streekhof verskyn in verband met die Oos-Randse slagting waarin vier mense doodgeskiet en nog twee gewond is.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oor ‘n leerder van Laerskool Queenswood in Pretoria, Latoya Temilton wat verdrink het op ‘n skooluitstappie.
En berig leerders gaan vanjaar swaar leef met die gebrek aan spasie in skole.
# Sowetan:
Berig die vermeende slagoffer van ‘n boer en ‘n werker van Groblersdal het in die hof getuig hoe honde na bewering op hom losgelaat is en hy mediese hulp geweier is. Piet Groenewald en Stephan du Preez is die beskudigdes in die saak.
# En The Citizen:
Lei met: “MOM JAILED IN CUSTODY FIGHT”. Die koerant skryf oor ‘n ma wat ‘n jaar tronkstraf opgelê is omdat sy die pa van haar kind toegang geweier het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die hofverskyning van Anton Bouwer en berig tweedens ook oor die tuiskoms van Dricus du Plessis.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig daar word ondersoek ingestel na sogenaamde ontgroening by die Wilgenhof-manskoshuis van die Universiteit Stellenbosch nadat die universiteitsowerhede op twee geheime kamers by die koshuis afgekom het wat ingerig is vir ontgroening.
En tweedens skryf die koerant ná wydverspreide betogings gaan die skoolvervoer na sekere Oos-Kaapse skole nou hervat word.
# En Cape Times:
Skryf oor ‘n instansie waar jeugdigde oortreders is glo met krieketkolwe geslaan is.
En berig die beleërde NSFAS ontvang miljarde rand om sy verpligtinge na te kom.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het vir die eerste keer in 12 jaar ‘n ongekwalifiseerde oudit ontvang.
En skryf oor die nagmerrie-ondervinding van Godknows Chavazhinji van Gqeberha wat ontvoer, aangerand en vir 24-uur aangehou is terwyl rowers al die geld uit sy bankrekening onttrek het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf Engen is in die spervuur oor die vrystelling van gasse by sy aanleg in die suide van Durban. Die petro-maatskappy sê egter hy voldoen aan regulasies.
En tweedens berig die koerant eThekwini hou môre ‘n vergadering oor die waterkrisis in die stad.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Zambezi-streeksraad het na maande besluit om ses senior raadslede te skors ná hul inhegtenisneming deur die Teenkorrupsiekommissie van Namibië oor ‘n vermeende korrupsieskandaal van 4,7-miljoen-rand.
En tweedens skryf die koerant die president van die Ganja Users of Namibia en die Rastafari United Front, Brian Jaftha se veldtog om die besit van dagga in Namibië te wettig, het weer ’n terugslag beleef.