Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig agt internasionale skeepvaartmaatskappye word beskuldig dat hulle ‘n kartel bestuur en die Mededingingskommissie het nou prysvasstellingsaanklagte by die Mededingingstribunaal ingedien vir vervolging.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die tugpaneel wat oor ‘n straf vir die Bok-slot Eben Etzebeth moet besluit, het sy uitspraak voorbehou tot Sondag.
Dan skryf die webblad die Withuis-woordvoerder, Karoline Leavitt sê slegs Afrikaner-vlugtelinge word tans in die VSA toegelaat.
En laastens word berig die woordvoerder van die ministerie van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Chrispin Phiri sê president Donald Trump se besluit om Suid-Afrika nie na die G20-sjerpavergadering uit te nooi nie, het ‘n uitwerking op die lidmaatskap van alle lande.
GAUTENG:
# The Star:
Berig een van die voorgangers van die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, die Al Jama-ah-raadslid Kabelo Gwamanda, het die mosie van wantroue teen Morero teruggetrek. Gwamanda het die mosie verlede maand ingedien na ‘n skeuring tussen die ANC en minderheidspartye in die raad.
# Sowetan:
Berig die polisie het bevestig dat hulle ondersoek instel na ‘n beweerde beplande aanval op die betrokkenes in die Senzo Meyiwa-moordsaak. Die koerant skryf polisiewoordvoerder Athlenda Mathe het gesê die polisie het intelligensie ontvang dat ‘n groep individue die verrigtinge bywoon met die uitsluitlike doel om ‘n geleentheid te soek om sleutelrolspelers aan die kant van die staat uit te skakel.
# En The Citizen:
Lei met: “YOU STOLE MY UNBORN KIDS”. Die koerant skryf oor ‘n MIV-positiewe vrou wat na jare uitgevind het sy is onderwerp aan gedwonge sterilisasie terwyl sy in die hospitaal was.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig dit het voor die Madlanga-kommisie aan die lig gekom dat die omstrede adjunk-metropolisiehoof van Ekurhuleni, Julius Mkhwanazi nooit amptelik aangestel is nie, maar versoek het dat sy salaris met 200-duisend-rand aangepas word.
Dan skryf die koerant DStv gaan teen die einde van die jaar vier kanale verloor met nog 12 van Warner Bros/Discovery wat volgende jaar sal verdwyn. Dit sluit in CNN en Discovery.
En laastens word berig oor die brandstofprysstyging wat vandag in werking tree.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit is vol vertroue dat die Nasionale Tesourie nie sal voortgaan met sy dreigement om die 600-miljoen-rand billike-deel-betaling vir Desember terug te hou nie. Indien dit gebeur, sal die munisipaliteit moontlik nie salarisse kan betaal nie.
En tweedens skryf die koerant daar word planne beraam vir ‘n reuse-lughawestad.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf waarnemende regter Ranjiv Nirghin het opdrag gegee dat oudregter en voormalige voorsitter van die Ingonyama Trust, Sipho Ngenwenya, 30-miljoen-rand terugbetaal wat uit die trust verwyder is.
En tweedens berig die koerant oor Senzo Mchunu se getuienis.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die skietaanval op ‘n streeksaanklaer van Ondangwa word glo gekoppel aan ‘n mislukte poging om haar om te koop.
Dan skryf die koerant die ministerie van Gesondheid se groot werwingsveldtog sluit glo byna alle mondhigiënepraktisyns uit.
En laastens word berig die adjunkminister van Onderwys, Innovasie, Jeug, Sport, Kuns en Kultuur, Dino Ballotti het erken onderwysers in Namibië word nie genoeg betaal nie.