Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die VSA oorweeg die opskorting van die G20-boikot maar president Cyril Ramaphosa sê daar is steeds onderhandelinge met Washington.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die G20-leiersberaad is Ramaphosa se groot oomblik om die wêreldverhoog as leier te betree.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig daar heers oënskynlik verwarring oor die VSA se deelname aan die G20-leiersberaad. Terwyl Ramaphosa sê onderhandelings duur voort het Withuis hom van die verspeiding van fopnuus beskuldig. Die webblad skryf daar sal Sondag ‘n Amerikaanse verteenwoordiger wees om die voorsitterskap oor te neem.
Tweedens skryf die blad oor die repokoersverlaging. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago sê ‘n verlaging in 50 basispunte is nie oorweeg nie aangesien die omgewing steeds onseker is.
En laastens is daar nuus oor Azelia Morkel wat aangestel is as die Suidoosterfees se eerste vrouevoorsitter.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die VSA se besluit ter elfder ure om in ‘n mate betrokke te wees by die G20-leiersberaad.
En tweedens word berig die Hooggeregshof in Mpumalanga het ‘n bevel tersyde gestel wat die Departement van Basiese Onderwys dwing om die matriekuitslae vry te stel aan leerders wat beskuldig is dat hulle deel was van ‘n massiewe bedrogskandaal tydens die 2022-eksamen.
# Sowetan:
Berig die G20-leiersberaad is ‘n groot toets vir Suid-Afrika aangesien dit die eerste beraad is wat op die vasteland aangebied word.
# En The Citizen:
Praat vandag met die oorlewende van geslagsgeweld wat sê sy het weggestap en moontlik so gekeer dat sy een van die 15 slagoffers per dag in Suid-Afrika word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die Amerikaanse betrokkenheid by die G20.
En tweedens berig die koerant oor die moord op die 73-jarige Pieter Lentz van Table View. ‘n Veiligheidswag het sy liggaam in die slaapkamer van sy woning aangetref.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die Walter Sisulu-universiteit word onder druk geplaas deur die beperkte NSFAS-toelaes wat uit betaal word.
En tweedens skryf die koerant die Buffalo City-metro het ‘n beroep op inwoners gedoen om uit respek vir die afgestorwenes nie vullis in begraafplase te stort nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf talle gesinne slaan belangrike etes oor omdat hulle nie geld vir kos het nie.
En tweedens word berig Women for Change se persveldtog teen geslagsgeweld en vrouemoord is besig om plaaslik en internasionaal opslae te maak.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die sosio-ekonomiese groei in die Erongostreek word deur vertragings in die bou van NamWater se beplande ontsoutingsaanleg belemmer.
Dan skryf die koerant die voorsitter en alle lede van die Kunenestreekraad word persoonlik aanspreeklik gehou vir finansiële verliese wat die regering gely het.
En laastens word berig ‘n gemeenskapsleier in Khomasdal sê die jong mense loop soos zombies rond en wend hulle tot dwelms en alkohol omdat hulle vergete voel.