Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf meer as 200 lede van die Amerikaanse Kongres het Suid-Afrika se saak teen Israel by die Wêreldhof veroordeel en dit as ‘n vyandige posisie jeens die Joodse staat bestempel. Hulle het die Biden-regering aangemoedig om die klag te verwerp.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ‘n verdagte sal vandag in die Benoni-landdroshof verskyn in verband met die Oos-Randse slagting waarin vier mense doodgeskiet en nog twee gewond is. Die polisie sê die motief vir die aanval kon nog nie bepaal word nie.
En tweedens skryf die koerant die broers David en Richard Kriel wat onderskeidelik vir die Bulle en Leeus rugby speel en ‘n woonstel deel, weier om Saterdag se kragmeting tussen die spanne te bespreek.
# Sowetan:
Berig dit het tydens die Senzo Meyiwa-moordsaak in die hof aan die lig gekom dat die vermoorde sokkerster se vriendin, die sanger Kelly Khumalo voor die moord kontak gehad het met twee van die beskuldigdes.
# En The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die Meyiwa-verhoor en berig volgens getuienis het Khumalo na bewering opdrag gegee vir die moord.
En tweedens berig die koerant maatskappye word aangemoedig om oudgevangenes aan te stel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die eggenoot van die vermoorde ds. Liezel de Jager, Werner, het in sy borgtogaansoek in die Amanzimtoti-landdroshof aangevoer hy is gedwing om ‘n bekentenis af te lê. Hy ontken nou dat hy enige aandeel gehad het aan die moord op sy vrou.
Tweedens berig die koerant ook oor die broers David en Richard Kriel.
En laastens is daar ‘n storie oor kinders wat glo in tale begin praat het nadat ‘n pastoor hul skool besoek het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Skryf oor die dood van die 20-jarige Monique Geldenhuys van Brackenfell in ‘n motorfietsongeluk. Sy en ‘n vriend was in Pringlebaai in ‘n botsing met ‘n ander voertuig betrokke.
En tweedens word berig die Departement van Basiese Onderwys het die kriteria vir die saamstel van die matriek-ranglys bekend gemaak.
# En Cape Times:
Berig oor die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga se plan om swangerskappe onder tieners te beperk.
En skryf tweedens vulstasies wat gedokterde diesel verkoop, het amptelike kennisgewings ontvang.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Skryf leerders in Nelson Mandelabaai het die strate ingevaar en betoog omdat daar tot dusver vanjaar geen vervoer beskikbaar was sodat hulle skool toe kan gaan nie.
En tweedens berig die koerant die stadsbestuurder van Nelson Mandelabaai, Noxolo Nqwazi is terug by die werk nadat sy twee jaar geskors is sonder dat sy van enige oortreding aangekla is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die ANC in KwaZulu-Natal sê die MK-party van oudpresident Jacob Zuma het geen bestaansreg nie en sy leier is ‘n kansvatter.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die pompe wat water uit die ou Berg Aukas-myn buite Grootfontein in die Omatakokanaal pomp, is nou al vir meer as drie weke stukkend.
En tweedens skryf die koerant Rusland se Rosatom is vasbeslote om die in-situ uitloging-myntegniek vir die ontginning van uraan na Namibië te bring.