Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is besig om sy ekonomiese diplomatieke strategie te verfyn om meer beleggings te lok en waardekettings te versterk.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die geweldsmonitor in KwaZulu-Natal, Mary de Haas het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die stigting van ‘n polisietaakspan wat politieke moorde ondersoek was onnodig. Sy het die ontbinding van die taakspan by minister Senzo Mchunu aanbeveel.
Tweedens skryf die webblad die Departement van Verdediging en Militêre Veterane wil stappe doen teen die hoof van die Suid-Afrikaanse Vloot, vise-admiraal Monde Lobese. Dit volg nadat hy teen die regering uitgevaar het oor die swak befondsing van die vloot.
En laastens word berig die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het ten gunste van die openbaarmaking van die Epstein-dossier gestem.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Suid-Afrika het alle vlugtelingsvlugte met Palestyne aan boord gestop. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die vlugte moontlik georkestreer word.
En tweedens word berig die saak rondom Afrisol se omstrede banier oor rassewetgewing is buite die hof geskik met die Johannesburgse Metro.
# Sowetan:
Berig die omstrede sakeman en ANC-nutsman, Brown Mogotsi het ‘n oorvloed van onbewese bewerings voor die Mandla-kommissie gemaak.
# En The Citizen:
Lei met: “TEACHERS WHO RAPE”. Die koerant skryf 176 onderwysers is die afgelope vier jaar aan seksuele oortredings skuldig bevind en die getal groei steeds. Vakbonde sê dis die departement se skuld dat daar nie meer aandag aan die saak gegee word nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die getuienis van Brown Mogotsi. Die koerant skryf Mogotsi wat na homself as misdaadintelligensie-agent verwys, beweer die polisiehoof in KwaZulu-Natal, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi en die Zoeloe-koning is beide CIA-agente.
Dan skryf die koerant die ma van Anthonie Bougas, Rensche het gister besoek gebring aan die likwidateurs van die Kleuterzone-groep.
Dan is daar nuus oor ‘n vermeende kabeldief wat by Upington uit ‘n oorvol Oranjerivier gered is.
En laastens word berig ‘n dinee saam met die stigter van Afrika Mayibuye, Floyd Sivambu gaan jou twee-miljoen-rand kos.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die Oos-Kaapse LUR vir Vervoer, Gemeenskapsveiligheid en Skakeling, Sipho Hlomuka het die provinsie se vakansieplan teen geslagsgeweld en dwelmmisbruik bekend gestel.
En tweedens skryf die koerant ‘n groep mense wat grond langs die lughawe beset, moes gister met skok toekyk hoe hul gehuggies gesloop word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, het gewaarsku dat ineenstortende infrastruktuur, onbetroubare basiese dienste en ‘n groeiende munisipale skuldkrisis die openbare vertroue ondermyn. Dit moet dringend aangespreek word as die provinsie ‘n bekwame en etiese provinsie wil herbou.
En tweedens berig die koerant ook oor Mogotsi se CIA-bewerings.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die nuwe nasionale lugredery, Namibia Air sal werksgeleenthede bied aan werknemers van die vorige lugredery, Air Namibia, wat in 2021 onder voorlopige likwidasie geplaas is.
Dan skryf die koerant ’n vermiste onderwyser wat glo vir vyf maande nie by die werk opgedaag het nie, is ontslaan.
En laastens is daar nuus oor ‘n privaat skool in Outjo se kerskoekprojek wat byna 30 jaar gelede begin is. Hulle gaan vanjaar volstoom voort.