Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die G20-beraad in Johannesburg gaan voort sonder belangrike wêreldleiers. Xi Jinping van China en Donald Trump van die VSA gaan nie daar wees nie, maar die Chinese premier Li Qiang en ander leiers gaan dit bywoon.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf pous Leo die 14de het sy seën oor die G20-beraad uitgespreek en sê Suid-Afrika se leierskap van die G20 is ‘n gewetensoomblik vir die wêreld. Die koerant berig die boikot deur Trump het skynbaar geen uitwerking op die beraad nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n groep van 153 Palestynse vlugtelinge het in Suid-Afrika aangekom nadat toegang vroeër geweier is omdat hul dokumente nie in orde was nie.
En tweedens skryf die webblad Suid-Afrika het planne om in 2036 of 2040 ‘n bod te maak om die Olimpiese en Paralimpiese Spele in die land aan te bied.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die brandweerdiens in Emfuleni hou eerder ‘n gevaar vir inwoners in as wat dit die rol van ‘n reddingsdiens vervul.
En tweedens word berig daar is hernude oproepe vir beter kinderbeskerming in Suid-Afrika.
# Sowetan:
Lei met die opskrif: “UNDER SIEGE” en het ‘n montage van 12 gesigsfoto’s van vroue wat die afgelope maand in Soweto aangeval en aangerand is. Die koerant skryf geslagsgeweld is ‘n plaag wat net voortduur.
# En The Citizen:
Lei met: “GET READY FOR CHAOS”. Die koerant skryf met die talle roetes wat gesluit word vir die G20-beraad gaan Johannesburgers die naweek swaar leef. Die moontlikheid bestaan dat vlugte ook vertraag gaan word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Zurenah Smit wat teregstaan vir die moord op haar man, Stefan, se aansoek in die Hooggeregshof in Kaapstad dat regter Derek Wille hom aan die saak onttrek, is van die hand gewys.
En tweedens skryf die koerant ook oor Suid-Afrika se Olimpiese planne.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig ‘n groot kuber-aanval op die Oos-Kaapse Departement van Menslike Nedersettings het die swakhede in die departement se kuberveiligheidstelsels blootgelê. Die aanvaller, Nightspire, het die stelsel op 9 November om 10:49 aangeval, maar die departement het eers byna twee uur later besef wat aan die gang is.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n lughawe wat in Komani [Queenstown] beplan word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die polisie in KwaZulu-Natal het bewyse ontdek dat ‘n werknemer van die Suid-Afrikaanse Polisiediens die strafregtelike rekordstelsel gemanipuleer het om James Stuart Scharnick te bevoordeel. Hy word na bewering verbind met die geskorste nasionale adjunkpolisiekommissaris Shadrack Sibiya.
En tweedens berig die koerant ook oor Suid-Afrika se planne om die Olimpiese Spele aan te bied.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig van die 18-miljoen-rand wat aan die Kalimbeza-rysprojek toegeken is, is na bewering 8-miljoen-rand aan raadgewers bestee.
Dan skryf die koerant kleppe op die hooflyn wat toegemaak word om water op te vang en te verkoop, is glo van die redes agter Groot Aub se waterkrisis.
En laastens is daar nuus oor Johanna Swartbooi wat Namibië tans by die Mej. Heelal-kompetisie in Thailand verteenwoordig.