Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die myngroep Anglo American Platinum en MTN SA het nie verantwoordelikheid aanvaar vir die bestuursprobleme wat daartoe gelei het dat die onreëlmatighede in Thabi Leoka se CV nie raakgesien is voor haar aanstelling as direkteur nie. Leoka het intussen as direkteur van Amplats bedank.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die eggenote en stiefseun van ‘n sakeman van Benoni, John Banks is in hegtenis geneem in verband met sy moord nadat sy liggaam in Julie verlede jaar in Elandsfontein gevind is. Patricia en Jarren Banks sal binnekort in die Benoni-landdroshof verskyn vir ‘n borgtogaansoek en die polisie sê verdere arrestasies is nie uitgesluit nie.
En tweedens skryf die koerant die AA en DA in die Wes-Kaap is bekommerd nadat dit aan die lig gekom het dat tot 70 vulstasies hul diesel met paraffien meng.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die beplande veiling waarop persoonlike besittings van oudpresident Nelson Mandela onder die hamer gaan kom, het tot ‘n ernstige twis in die Mandela-familie gelei.
En berig daar is in die hof aangevoer die moord op die sokkerster Senzo Meyiwa was ‘n georganiseerde huurmoord.
# Sowetan:
Berig ook oor die Meyiwa-moordsaak en skryf oor die verskillende rolle van die beskuldigdes wat in die hof uitgespel is.
# En The Citizen:
Lei met die regering se onvermoë om skoon drinkwater aan die burgers te lewer en skryf dis moontlik te laat om al die probleme met watervoorsiening op te los.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die konstruksieprobleme aan die R-76 tussen Steynsrus en Kroonstad. Die afgelope ses jaar is reeds 404-miljoen-rand bestee maar die pad is steeds in ‘n haglike toestand en werk staan nou stil as gevolg van ‘n siviele saak tussen die Vrystaatse regering en die kontrakteur.
En tweedens skryf die koerant die lyfwagte van die president van die African Congress for Transformation, Ace Magashule het ‘n man na bewering ernstig aangerand toe hy ‘n T-hemp van die party in Magashule se gesig gegooi het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die dood van die diereredder en slangvanger van die Strand, Rico Pentz nadat ‘n kobra hom gepik het.
Dan skryf die koerant ook oor die vulstasies wat na bewering diesel en paraffien meng.
En laastens is daar nuus oor ‘n hond met ses pote in Wallis wat ‘n operasie ondergaan het en nou aansterk.
# En Cape Times:
Skryf die ANC het sy kanse verspeel om op te tree teen Jacob Zuma.
En berig oor die redes vir die Wes-Kaap wat teruggesak het tot die vierde plek onder die provinsies met ‘n matriekslaagsyfer wat gestagneer het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig honderde leerders in Gqeberha is gestrand gelaat aangesien hul skoolvervoer vanjaar nog glad nie opgedaag het nie.
En skryf tweedens Wikus van Rensburg Prokureurs van Nelson Mandelabaai het briewe aan die VSA en Brittanje gerig waarin die lande daarvan beskuldig word dat hulle aandadig is aan Israel se vergrype in Gaza.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die woordvoerder van die voormalige burgemeester van eThekwini, Zandile Gumede sê daar is geen bewyse teen haar vir die sowat twee-duisend aanklagte waarop sy teregstaan in verband met ‘n tender van 300-miljoen-rand nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ondergemiddelde reënval en baie hoë temperature word vir Namibië se graanproduserende gebiede voorspel.
En skryf die maatskappy Namib Desert Diamonds of Namdia gaan weer diamante koop nadat die laaste aankope in September verlede jaar gedoen is.