Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 September 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Is die eerste van talle dagblaaie en nuuswebwerwe wat vandag berig oor die provinsiale kommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, se getuienis voor die Madlanga-kommissie. Die koerant skets ‘n somber prentjie van verlore geregtigheid as gevolg van geskorste polisieminister Senzo Mchunu se ontbinding van ‘n elite-taakspan wat hoëprofielmoorde ondersoek en die onttrekking van 121 dossiere.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig volgens Mkhwanazi is Mchunu ten volle in beheer van ‘n misdaadsindikaat in Gauteng. Hy sê die lede van die taakspan wat ontbind is, sal voor die Madlanga-kommissie hieroor getuig.
Dan skryf die webblad een van die beskuldigdes in die Phala Phala-diefstalsaak het na bewering vir hom ‘n blitsige voertuig gekoop nadat die dollars weggeraak het. Imanuwela David het die voertuig gekoop in dieselfde naweek dat die geld verdwyn het.
En laastens word berig parlementslede is omgekrap omdat die Raad vir die Beboude Omgewing steeds nie die verslag oor die George-gebouramp uitgereik het nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Gautengse Gesondheidsdepartement het die afgelope drie jaar 46,7-miljoen-rand toegeken aan twee kontrakteurs wat verantwoordelik is vir brandopsporing- en onderdrukkingstelsels in provinsiale hospitale. Daar bestaan egter vrae oor die doeltreffendheid hiervan aangesien daar nog baie uitdagings is ten opsigte van die versekering van pasiëntveiligheid en nakoming van brandveiligheidsregulasies.
# Sowetan:
Berig daar het binnegevegte uitgebreek in die familie van wyle adjunkpresident David Mabuza terwyl verskillende vrouens baklei oor sy nalatenskap van 44-miljoen-rand.
# En The Citizen:
Skryf Mkhwanazi draai geen doekies om by die Madlanga-kommissie nie en hy sê hy beskik oor bewyse om alles te staaf wat hy sê.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig soos Netwerk24 oor die Madlanga-kommissie en die Phala Phala-diefstalsaak.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die inwoners van Pefferville het slaags geraak met die polisie tydens betogings oor kragonderbrekings.
En tweedens skryf die koerant daar heers tans onsekerheid oor belangrike ANC-streke in die Oos-Kaap se verkiesingskonferensies.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Mkhwanazi het by die Madlanga-kommissie gewaarsku dat die hele regstelsel in duie kan stort.
En berig buitelandse burgers word opnuut bedreig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Justisie probeer weer vir die uitlewering van Marén de Klerk wat betrek word by die Fishrot-skandaal, nadat Namibië se aanvanklike poging verlede jaar in Suid-Afrika misluk het.
En tweedens skryf die koerant Ben Freeth wat hom bewyer vir die heropening van die SAOG-tribunaal, is tans op ‘n perdetog van 350-kilometer vanaf Okahandja en deur die Skedelkuspark tot by Kaap Kruis om bewusmaking te skep.