Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die kwalifikasie-debakel rondom Thabi Leoka het die belangrikheid beklemtoon van rade se verantwoordelikheid teenoor aandeelhouers om voornemende direkteure behoorlik te keur.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die sukses van die matriekklas van 2023 wat die Onafhanklike Eksamenraad of IEB se eksamen afgelê het. Die slaagsyfer is 98,46-persent.
En tweedens is daar nuus oor die Laerskool Bailliepark in Potchefstroom. Dié skool het vanjaar vyf pare tweelinge.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die koerant publiseer vandag al die uitslae van die IEB en môre dié van die Nasionale Senior Sertifikaat-leerders.
En tweedens word ook berig oor die uitstekende slaagsyfer van die IEB-leerders.
# En Sowetan:
Het ‘n aantal skole op die eerste skooldag besoek en ‘n donker prentjie aangetref. Gesteelde skryfbehoeftes, ‘n tekort aan meubels, die deel van sokkerstewels onder leerders en geen kombuis om 800 honger kinders te voed nie, is van die uitdagings wat die koerant teëgekom het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die uitlewering van ‘n oudonderwyser van Grey Kollege om op aanklagte van seksuele aanranding tereg te staan is nou in die hande van Nieu-Seeland. Die man was 35 jaar gelede ‘n onderwyser en sportafrigter by die laerskool.
En tweedens skryf die koerant ook oor die eerste skooldag van honderde nuwe leerders in die Vrystaat en Noord-Kaap.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die klagstaat in die moordsaak van ds. Liezel de Jager van Amanzimtoti. Dit blyk sy het ‘n pynlike dood gesterf en om haar lewe geveg. Haar man Werner word aangekla.
En tweedens skryf die koerant oor Charlotte Molefe van Brits in Noordwes wie se lieflinghond Leopard deur ‘n luislang ingesluk is.
# En Cape Times:
Skryf president Cyril Ramaphosa se steeds stygende regskoste is in die soeklig.
En berig die toekoms van die Shosoloza Meyl is onseker.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die eerste skooldag in Nelson Mandelabaai is gekenmerk deur oorvol skole met tot 70 leerders in ‘n klas terwyl nog leerders buite gewag het.
En tweedens skryf die koerant ‘n dapper hond veg om sy lewe in ‘n Gqeberha-dierehospitaal nadat hy met ‘n mes gesteek is toe hy twee gewapende rowers by ‘n huis in Kabegapark wou keer.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die IEB-matrieks van 2023 is geloof vir hul puik prestasie.
En berig die DA en IVP soek antwoorde nadat ‘n brand by ‘n skool in eThekwini uitgebreek het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig mediese fondse se vermindering van hospitaalvoordele vir verskeie prosedures beteken pasiënte sal tussen 25- en 33-persent uit hul eie sakke vir narkotiseurs moet opdok.
En tweedens skryf die koerant die Britse miljardêr en moordbeskuldigde, Harvey Boulter se prokureur sê daar is geen bewyse hy het met opset die vuurwapen afgevuur nie.