Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Hooggeregshof in Pretoria het die dringende aansoek van die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika om die regering se nuwe regulasies vir gelyke indiensneming op te skort, van die hand gewys. Neasa, wat ongeveer sewe-duisend werkgewers verteenwoordig, en die sake-organisasie Sakeliga het in Julie ‘n geding aanhangig gemaak om ‘n tussentydse bevel te versoek om die regulasies op te skort hangende ‘n hersieningsaansoek.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor nog ‘n privaat hulpboot wat op pad is na Gaza met babakos, medisyne en basiese benodigdhede aan boord. Die keer is daar nege Suid-Afrikaners wat saamgaan, maar die koerant berig dat die Israelse weermag waarskynlik toegang sal keer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die skuldigbevinding van Amber Lee Hughes vir die moord op en verkragting van die vierjarige Nada-Jane Challita.
Dan skryf die webblad die oud-Springbok-afrigter, Peter de Villiers se aansoek dat die klagte van seksuele aanranding teen hom van die hand gewys word, was suksesvol. Daar is beweer De Villiers het in Januarie 2024 die vrou wat op daardie stadium saam met hom by die GOOD-party betrokke was, aangerand het.
En laastens is daar nuus oor Suid-Afrikaanse atlete se prestasies in Zürich, Switserland.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die president van die ANC-jeugliga, Collen Malatji, het president Cyril Ramaphosa versoek om alle onbevoegde ANC-ministers en ANC-burgemeesters wat nie basiese dienste lewer nie, af te dank.
# Sowetan:
Berig die familie van die e-taxi-bestuurder wat in Soweto doodgeskiet is, Mthokozisi Mvelase, sê hulle het nog geen aanduiding wanneer hulle sy liggaam gaan ontvang vir ’n begrafnis nie.
En skryf tweedens die polisie het vyf minibustaxibeheerders in Tembisa in hegtenis geneem wat mense beboet wat in privaat motors ry.
# En The Citizen:
Skryf die sowat 153-duisend sekswerkers met ‘n omset van sowat 60-miljard-rand per jaar vra opnuut dat hulle bedryf met streng beheermaatreëls gewettig word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die vryspreking van Peter de Villiers.
En tweedens word berig Ford gaan bykans 500 mense aflê vanweë die swak ekonomie en laer aanvraag na voertuie.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die beskuldigdes in die Lusikisiki-slagting waartydens 18 mense in 2024 doodgeskiet is, het skynbaar probeer om familielede van die slagoffers te werf om hulle te help.
En skryf tweedens daar is nog probleme op pad vir die Buffalo City-metro, die keer in die vorm van dreigende stakings.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Rwanda het nou ook ingestem om misdadigers van die VSA te huisves.
En tweedens word berig hoewel dit amper amptelik lente is, bly die munisipale swembaddens steeds gesluit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Colette Rieckert van Curro Namibia sê die besluit van ‘n Suid-Afrikaanse sakeman om Curro in ’n niewinsgewende organisasie te omskep, sal groter kapitaalbelegging moontlik maak.
Dan skryf die koerant skolerugby kry ‘n hupstoot danksy ‘n vyfjaarvennootskap met My Zone.
En laastens is daar nuus oor die baie welkome vroeë lentereën in Namibië.