Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oudpresident Jacob Zuma en die MK-party daag nou sy opvolger, president Cyril Ramaphosa, in die Hooggeregshof uit om polisieminister Senzo Mchunu se verlof en die aanstelling van Firoz Cachalia as waarnemende minister tersyde te stel. Zuma en sy MK-party wil ook hê dat die stigting van ‘n kommissie wat bedoel is om bewerings van kriminele infiltrasie in die veiligheidsgroep te ondersoek, tersyde gestel word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens weer eens oor die Ohrigstad-plaasaanval in Limpopo. Die familie van Anneke Claassen hoop haar moordenaar word skuldig bevind en swaar gestraf.
Dan skryf die koerant ‘n boer van Heilbron in die Vrystaat het Vrydagaand ‘n plaasaanval oorleef toe die aanvallers hom nie kon raakskiet nie.
En laastens word berig die luiperd wat verlede week amok gemaak het in Mookgopong in Limpopo se strate is weer gewaar.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Suid-Afrika se vroue leef steeds onder die skaduwee van geslagsgeweld en vrouemoord op vlakke wat vergelyk word met oorlogsones, ten spyte van regeringsbeloftes en gemeenskapsingryping wat daarop gemik is om die krisis aan te pak. Die koerant berig volgens die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening het 51-persent van vroue in die land geslagsgeweld ervaar, terwyl 76-persent van mans erken dat hulle geweld teen vroue gepleeg het.
# Sowetan:
Berig die Tesourie het met banke in gesprek getree oor die moontlikheid dat die VSA sanksies kan instel teen ANC-lede.
# En The Citizen:
Berig oor ‘n Gautengse kankerpasiënt wat nou op sterwe lê nadat die provinsiale regering nagelaat het om die bestraling van kankerpasiënte te hervat. Die koerant skryf die pasiënt is slegs een van sowat drie-duisend pasiënte wat nie behandeling ontvang nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die direkteur van afrigting by die Villagers Worcester-rugbyklub, Alridge Mercuur is aan ‘n hartaanval oorlede. Dit volg kort na ‘n suksesvolle nieroorplanting.
En tweedens skryf die koerant die soektog duur voort nadat ‘n man by die Table View-strand in die see verdwyn het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die nuwe oortydreëls vir munisipale werkers spaar die metro geld.
En skryf oor die haglike omstandighede in Nelson Mandelabaai se gesondheidsinstellings.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die inwoners van Pietermaritzburg gaan steeds gebuk onder talle foute met hul diensterekeninge.
En tweedens word berig die Zoeloekoning Misuzulu kaZwelithini sê hy is nie van plan om die rietdans weer te skuif nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig nadat die grootste renosterboer ter wêreld verlede week in Suid-Afrika in hegtenis geneem is, is daar vrae of dit ’n negatiewe uitwerking sal hê op Namibië se aansoek by Cites om handel in renosterhorings te wettig.
Dan skryf die koerant ‘n Chinese sakeman is deur die hof gelas om op te dok nadat hy ‘n vroulike werknemer verneder en verkleineer het.
En laastens is daar nuus oor die aktrise Je-Ani Swiegelaar wat met die louere weggestap het by die Silwerskermfees ná die wegholsukses van die rolprent My f*k Marelize!