Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrikaanse uitvoerders na die VSA staar van 1 Augustus ‘n tarief van 30-persent in die gesig. Dit volg nadat president Donald Trump die aankondiging gisteraand gedoen het om soos hy dit stel “vorentoe te beweeg met meer gebalanseerde en billike handel”.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor Trump se tarief. Die webblad skryf die rand het in reaksie met tot 21-sent teenoor die dollar verswak. Trump het ook te velde getrek teen BRICS wat hy sê teen-Amerikaanse beleid bevorder.
Dan skryf die blad president Cyril Ramaphosa sê hy sal eers met sy terugkeer van die BRICS-beraad in Brasillië aandag skenk aan die storm wat losgebars het na die onthullings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris. Kenners meen Ramaphosa gaan ‘n kommissie van ondersoek aanstel.
En laastens is daar nuus oor die Jacques Freitag-moordsaak. Die beskuldigde en oudprokureur Rudie Lubbe sal nie in hierdie stadium op borg vrygelaat word nie.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die Johannesburgse raadslid, Kabelo Gwamanda beweer die adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya het ‘n intelligensie-operasie in Johannesburg bedryf. Hy het glo onwettige spioenasie-toerusting van Israelse kontrakteurs verkry het en sy posisie misbruik teen sy politieke teenstanders.
# Sowetan:
Berig oor die taxistaanplek in Ekurhuleni wat teen 17-miljoen-rand opgerig is maar deur niemand gebruik word nie. Santaco sê hulle is nie geraadpleeg nie en die staanplek is te ver van winkels of banke vir pendelaars om te gebruik.
# En The Citizen:
Skryf Ramaphosa het geen keuse as om nou op te tree in verband met die bewerings van luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi oor politieke inmenging nie. Die mense van Suid-Afrika verwag dat hy ‘n einde sal bring aan die korrupsie in die polisie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die 79-jarige Freda Kriek, ‘n dowe inwoner van die Monta Rosa-ouetehuis in Tuine, Kaapstad is Sondagoggend op pad kerk toe vermoor. Die foto van ‘n man wat na bewering van die toneel af weghardloop is op kringtelevisie vasgevang.
En tweedens skryf die koerant ‘n studie toon dat Covid wel ‘n langtermyn-uitwerking het op die geheue van pasiënte.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, het die mandaat van die metro se ontwikkelingsagentskap om die stad se wêreldklas-stadion te bestuur, beëindig, net een week voor die Springbok-toetswedstryd hierdie naweek.
En tweedens skryf die koerant bedrieërs wat hulself voordoen as polisie- en doeanebeamptes teiken hul slagoffers met vals beskuldigings van dwelmsmokkelary en geldwassery.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die minister van Polisie, Senzo Mchunu het teruggekap teen die bewerings van politieke inmenging teen hom.
En berig tweedens oor die reuse-dwelmprobleem by skole in Pietermaritzburg.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig meer as 30 onopgeëiste liggame en meer as 200 stilgebore babas lê in staatslykhuise en wag op ‘n waardige begrafnis wat moontlik nooit sal gebeur nie.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie en die Universiteit van Namibië het begin om interne strukture in plek te stel in aanloop tot die instelling van gratis tersiêre onderwys in 2026.