Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig navorsing deur die Finansiële Sektor Gedragsowerheid dui daarop sowat 5,8-miljoen mense in Suid-Afrika besit kripto-bates. Kaapstad het na vore getree as die voorkeurbasis vir entrepreneurs in die sektor.
GAUTENG:
# Beeld:
Die koerant staan sy voorblad af aan twee moordsake wat die land aan die praat het.
Die eerste is die moord op Nadine Terblanche en haar negejarige seuntjie, Ruandré Vorster. Nadine se vriend, Freddie Stapelberg is in hegtenis geneem.
En tweedens die moord op ds. Liezel de Jager van Amanzimtoti. Haar man Werner staan tereg in die plaaslike Landdroshof.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Sekunjalo Investment Holdings het kennis gegee van sy voorneme om verskeie Suid-Afrikaanse staatsorgane insluitend die Presidensie te dagvaar en skadevergoeding ten bedrae van 75-miljard-rand te eis vir die berekende verlies wat gely is.
En tweedens word berig daar is ‘n beroep op ouers gedoen om matrikulante te ondersteun ten opsigte van hul uitslae.
# Sowetan:
Berig die gemeenskapsleiers van Diepsloot leef in vrees nadat dit aan die lig gekom het dat roofbendes daarop uit is om misdaadbestryders aan te val en te vermoor.
# En The Citizen:
Skryf met al hoe meer munisipaliteite wat in duie stort maak die inwoners gebruik van privaat maatskappye om dienste oor te neem.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die moordsaak teen Werner de Jager. Die koerant skryf daar is in die hof aangevoer dat hy die moord op sy vrou om finansiële redes beplan het.
En tweedens word berig slegs een van die staat se Artikel 204-getuies in die Parys-vigilantesaak, Gawie Coetzer gaan vrywaring ontvang. Die ander vyf kan nou teregstaan vir die moord op twee plaaswerkers.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig drie skoolseuns wat op pad terug was van ‘n jeugkamp in Botswana het in ‘n motorongeluk naby Lephalale in Limpopo omgekom. Hulle was Jean Conradie en Daniël Jordaan van Somerset-Wes en Werner Oosthuizen van Australië.
En tweedens skryf die koerant oor Haylie die polisiehond wat gehelp het om ‘n perlemoenstroper in Simonstad vas te trek.
# En Cape Times:
Skryf hoewel daar onreëlmatighede was, het die Wes-Kaap die groen lig gegee vir die vrystelling van die matriekuitslae.
En berig onbetaalde toelaes spook steeds by die NSFAS.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC in Nelson Mandelabaai wil weet hoekom die party se streeksekretaris, Luyolo Nqakula die ANC met T-hemde en kospakkies gehelp het nadat hy in 2022 opsy gestaan het.
En tweedens skryf die koerant Nelson Mandelabaai-ouers kamp daagliks by skoolhekke uit om hulle kinders in te skryf voor die eerste klok Woensdag lui.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf biskop Vusi Dube van die eThekwini Community Church het ‘n beroep gedoen op president Cyril Ramaphosa en oudpresident Jacob Zuma om in gesprek te tree om bloedvergieting in KwaZulu-Natal te voorkom.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig meer as 53-duisend preprimêre en 98-duisend graad 1-leerders het gister hul nuwe skooljaar in sowat een-duisend-722 staatskole landswyd begin. Die uitvoerende direkteur van Onderwys, Kuns en Kultuur, Sanet Steenkamp sê verskeie nuutgevestigde skole het die druk op skole verlig.
En tweedens skryf die koerant die uitkoms van die Regterlike Dienskommissie se openbare onderhoude met drie kandidate vir die aanstelling as regters van die Hoërhof, is bekend.