Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge het aangekondig dat hulle ondersoek gaan instel na die stand van die finansies by die Padongelukkefonds. Die voorsitter van die komitee, Songezo Zibi sê die ondersoek sal ook kyk na onreëlmatighede in die voorsieningsketting ter waarde van meer as een-miljard-rand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die vloedskade in die Oos-Kaap word op 5,1-miljard-rand beraam en die dodetal het tot 100 gestyg. Onder die slagoffers is 37 kinders waarvan 22 leerders was.
Tweedens skryf die webblad die ontvoerders wat ‘n skoolseun naby sy skool in Bloemfontein oorrompel het wou sewe-miljoen-rand van sy ouers hê. ‘n Polisiebeampte, die 42-jarige sersant Nzima Philemon Adoons verskyn in die hof in verband met die ontvoering.
En laastens is daar nuus oor die herdenking van die Bokke se Wêreldbeker-oorwinning 30 jaar gelede.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf inwoners van Emalahleni is geskok na die inhegtenisneming van die 39-jarige Cascar Bongani Nkosi, wat bekend was as ‘n vriendelike lid van die gemeenskap. Nkosi is na bewering ‘n reeksverkragter wat ten minste 13 jong meisies aangerand het, met vrese dat die werklike aantal slagoffers tot 30 kan styg.
# Sowetan:
Berig adjunkpresident Paul Mashatile het heftig ontken dat hy enige rol gespeel het in die toekenning van die loterylisensie aan Sizekhaya en sê hy was nie bewus sy skoonsuster is betrokke by die maatskappy nie.
# En The Citizen:
Skryf die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero is in die spervuur met die DA se mosie van wantroue in hom wat vandag voor die raad dien. Die koerant berig daar is sommige faksies in die ANC wat dalk die mosie sal steun.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die Suid-Afrikaners wat gestrand is ná Iran se aanval op Doha, Katar. Die koerant skryf ook president Donald Trump is skynbaar omgekrap omdat veral Israel hom nie aan die skietstilstand gesteur het nie.
En tweedens skryf die koerant die 35-jarige onderwyser, Melissa Hughes wat na bewering ‘n onthullende video aan ‘n Graad 7-leerder gestuur het, het weer in die hof verskyn. Sy word aangekla van seksuele voorbereiding.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig duisende voorskoolse instellings in die Oos-Kaap het nog nie die staatsubsidie ontvang waarop hulle staatmaak nie, wat hulle in benarde situasies plaas terwyl hulle probeer om in die basiese behoeftes van jongmense te voorsien.
En tweedens skryf die koerant die lewe van een van Suid-Afrika se mees geëerde jazz-sterre, Fezile “Feya” Faku word in sy geboorteplek, New Brighton herdenk.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die wedervaringe van Suid-Afrikaners wat in Katar woon tydens Iran se missielaanval op die Amerikaanse lugmagbasis in Doha.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Stedelike en Landelike Ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa het dit duidelik gestel dat die leier van die Landless People’s Movement, Bernardus Swartbooi se politieke ambisies verdoem is en dat hy in geen stadium president sal word nie.